Leerlingruiter

Suid-Afrikaner Hermien Janse word aanvaar by Perdeskool Dwarsvlei, ‘n skool vir begaafde jong ruiters in die suidooste van Praida. Dit is altyd moeilik om ‘n pad te baan in ‘n nuwe skool, maar Hermien moet ook nog ‘n hele nuwe kultuur onder die knie kry.

‘n Mislike dresseeronderwyser, Latynlesse om vyfuur in die môre en die aantreklike Sarel Kriegler is maar net die begin van haar probleme. Daar is ook nog die toetsskoue waar die skoolspanne vir die Nasionale Juniorkampioenskappe gekeur gaan word. Hermien besef dat daar iemand in die skool is wat vir niks sal stuit om te wen nie, wanneer die een onderduimse sabotasiepoging na die ander op haar en haar vriende gemaak word.

Dan is daar ook ryksmanskind Cheyna du Preez se kruppel merrie. Alhoewel die merrie ‘n stamboek Volbloed is, het Cheyna nie tyd vir kruppel perde nie. Wanneer die merrie deur ‘n slaghandelaar gesteel word is dit Hermien wat alles op die spel plaas om die groot merrie, en die eerste werklike kameraadskap wat sy vir ‘n perd voel, te red.