In die pyplyn

Titel: Die Troue Kroon

stories inspiration fantasy

Genre: Lae fantasie

Stadium: Eerste manuskrip/buitelyn

Opsomming:

Vir Revina Merula ruik doodsgevaar na rose.

Sy het in die koningin se roostuin weggekruip, daardie noodlottige nag toe die Vircingeri aangeval het. Later was die soet, bedwelmende geur die enigste ding wat sy helder kon onthou. Dit, en die gejil van die vyandelike soldate en die krygsrumoer wat om haar toevou en die wete dat alles wat sy voor lief is deur verraad verwoes is.

Revina oorleef die aanval, maar net omdat ‘n naamlose weldoener haar na veiligheid bring. Veiligheid is ‘n hutjie in die hart van die Alyan-gebergtes, en Momi, ‘n ou vrou wat eens op ‘n tyd die vrees van die Stille Oseaan se seerowers was. Momi rig Revina af tot ‘n gedugte kryger, gereed vir die dag wanneer haar land haar weer sal nodig hê.

Maar Revina het ‘n vaste besluit geneem om nooit na haar land terug te keer nie. Hulle eie stamgenote het haar familie aan die Vircingeri verraai. Dit is nie haar probleem dat hulle nou op hulle beurt verraai en verdruk word deur hulle eertydse bondgenote nie.

Wanneer die wekroep kom om haar land uit sy verslawing te verlos, moet Revina ‘n moeilike keuse maak. Die vryheid en avontuur waarna haar rustelose siel hunker? Of die plig as koningin waartoe haar geloof en gewete haar gebonde hou?

Aantal woorde: 21000

Reeks: Kronieke van die Kroon #3

Pinterestbord

 

Titel: Ystererts

 

stories aesthetic spy thriller

Genre: Spanning

Stadium: Beplanning

Opsomming:

Alain Sauvage, agent van die DGSE, word die taak van ‘n leeftyd opgelê. Hy moet die atoomwapen wat die Derde Wêreldoorlog kan ontketen oppas.

Die Jettatura, met genoeg krag vir ‘n honderd Little Boys in sy slanke lyfie verpak, word in Andrew Tenneson se atoomfasiliteit buite Tennerive, Frankryk, bewaar. Dit is na bewering net vir navorsingsdoeleindes gebou, maar iemand binne die maatskappy probeer dit nogtans aan die man wat die hoogste aanbod kan maak verkoop. Die inligting word gelukkig deur ‘n jong Rus onderskep. Hy is ongelukkig net te laat om te keer dat die nuus dat die Jettatura wel bestaan die kuberruim inskiet.

Nou is dit Sauvage se taak om Nicolai, en die intel op sy selfoon, op te pas.

Met die CIA en MI6 wat in sy nek blaas, en elke fortuinsoeker op die aardbol wat Nicolai se bloed soek, moet Sauvage die wapen probeer veilig hou tot dit na ‘n nuwe plek van veiligheid verplaas kan word. Hy moet ook die lek binne Tenneson Bpk. probeer opspoor, en met Tenneson se aggressiewe sekuriteitsmaatskappy wat hom om elke hoek en draai dwarsboom is dit geen maklike taak nie. Daar is ook natuurlik nog die onmoontlike jong Rus self wat Sauvage grys hare gee.

En, in die skaduwees, wag Ystervuis, die man wat nie bestaan nie. Sy opdrag is om die Jettatura te steel, en hy het nog nooit gefaal nie.

Aantal woorde: 2500

Reeks: Kodenaam Ystervuis #1

Pinterestbord

 

Titel: Perdeskool Dwarsvlei

 

Genre: Jeugverhaal

Stadium: Beplanning/buitelyn

Opsomming:

Suid-Afrikaner Hermien Janse word aanvaar by Perdeskool Dwarsvlei, ‘n elite-skool vir begaafde jong ruiters in die suidooste van Praida. Hermien is ‘n rykmanskind wat gewoond is om alles te kry wat sy wil hê, en die nuwe skool is vir haar ‘n kultuurskok.

Latynlesse om vieruur die môre, streng dissipline en ‘n matrone wat nie geduld het met haar glutenvrye Banting-dieëet nie is maar die minste van Hermien se probleme. Daar moet ook nog stalle skoongemaak word, jonger kinders opgepas word en elke Sondag, sonder verwyl, na die kerk op Dwarsvlei-dorp afgesit word.

Die hele skool is buitendien op hol oor die Nasionale Juniorkampioenskappe se toetsskoue. Hermien is vasberade om te wen, maar haar onderduimse plan om te sorg dat dit gebeur byt haar lelik in die hakskeen. Selfs die kinders wat haar status as rykmanskind aangehang het wil nou niks meer van haar weet nie.

Dit is dan, wanneer sy vir die eerste keer waarlik besef dat geld nie alles is nie, wat Hermien vir Canta Negra, die kruppel merrie met die sagte oë, ontmoet. Sy ontmoet ook vir Sarel Kriegler, die skoolhoof se goedhartige seun. Dit is eindelik met Canta en Sarel se hulp wat Hermien leer, ook miskien vir die eerste keer, hoe om werklik ‘n waardevolle vriendskap te smee.

Aantal woorde: NVT

Reeks: NVT

Pinterestbord

 

(Vrywaring: Al die foto’s hierbo is van Pinterest af, ek het dit net gecollage)