Donkerman

Alain Sauvage, agent van die DGSE, word die taak van ‘n leeftyd opgelê. Hy moet die kodes vir ‘n kluis, waarin die beste atoomwapen wat nog ooit gebou is gehou word, oppas. Donkerman, met genoeg krag vir ‘n honderd Little Boys in sy slanke lyfie verpak, word in Andrew Tenneson se atoomfasiliteit buite Tennerive, Frankryk, bewaar. Dit is net vir navorsingsdoeleindes gebou, maar iemand binne die maatskappy probeer dit nogtans aan die man wat die hoogste aanbod kan maak verkoop.

Die kodes word gelukkig deur ‘n jong Rus onderskep. Hy is ongelukkig net te laat om te keer dat die nuus dat hulle wel bestaan die kuberruim inskiet.

Nou is dit Sauvage se taak om Nicolai, en die kodes op sy selfoon, op te pas. Met die CIA en MI6 wat in sy nek blaas, en elke fortuinsoeker op die aardbol wat Nicolai se bloed soek, moet Sauvage die wapen wat die Derde Wêreldoorlog kan ontketen probeer veilig hou tot dit na ‘n nuwe plek van veiligheid verplaas kan word. Hy moet ook die lek binne Tenneson Bpk. probeer opspoor, en met Tenneson se aggressiewe sekuriteitsmaatskappy wat hom om elke hoek en draai dwarsboom is dit geen maklike taak nie. Daar is ook natuurlik nog die onmoontlike jong Rus self wat Sauvage grys hare gee.

En, in die skaduwees, wag Ystervuis, die man wat nie bestaan nie. Sy opdrag is om Donkerman te steel, en hy het nog nooit gefaal nie.