Die Koningin van Praida

Die moontlikheid dat Regina eendag koningin sou word het nooit regtig bestaan nie. Sy is die tweede jongste van vyf kinders, ‘n rebel, ‘n avonturier en boonop ‘n meisiekind. Sy weet nie wanneer om haar mond te hou nie, en nog minder wanneer dit nié die oomblik is om te probeer wegloop en ‘n seerower te word nie. Nadat sy een maal te veel die heer Varro die harnas in gejaag het met haar onverstandige opmerkings word sy op veertienjarige ouderdom na die Kaap verban om ‘n dame te word.

Twee jaar later lyk die prentjie geheel en al anders. Haar vader, die koning, is dood en haar hele gesin is uitgemoor. Die koning se legioene is uitmekaargejaag, die hoofstad deur die moorddadige Vircingeri ingeneem. Die Raad, met Varro aan hul hoof, het die koning verraai en sy valse bloedbroer se seun op die troon gesit.

Met die hulp van haar sosialevlinder beste vriendin, ‘n vaal Sigeuner wat net in halwe sinne praat, twee stokou sluipmoordenaars en ‘n seerowerkaptein wat heeltemal te vriendelik is, moet Regina optrek om die kroon op te eis en haar familie se dood te wreek.