Afrikaans Die prys van 'n broer Karakters My stories

Karakterprofiel – MAIA ARVEC

maia arvec die prys van 'n broer

Soos julle miskien nog onthou, het ek laasjaar heelwat pret gehad toe ek kajuitraad gehou het met Giddy en kie, uit my kortverhaal Uncles and Outlaws. Nou, ‘n karakterprofiel is naby aan ‘n karakteronderhoud, maar dis nie presies dieselfde nie. In plaas daarvan dat ek direk met die karakters ‘gesels’ beantwoord ek net ‘n paar prettige vrae oor hulle. Ek sal moontlik in die toekoms weer karakteronderhoude doen, maar op die oomblik is profiele die beste manier vir my om my karakters beter te leer ken.

WIE IS MAIA?

Maia Arvec, en die ander karakters wat ek hopelik in komende maande mee gaan gesels, kom uit my storie Die Prys van ‘n Broer (die sinopsis sal eersdaags beskikbaar wees!).

Maia is veertien jaar oud, en wat voorkoms betref nie regtig uitsonderlik of buitengewoon nie. Bruinswart hare, bruin oë – soos meeste van haar stamgenote in Valde. Ek het ongelukkig nie ‘n prentjie van haar op veertienjarige ouderdom nie. Die een hierbo is waar sy bietjie ouers is, maar dit gee julle so soortvan ‘n idee.

Ek het sommer ‘n paar van die prettige vrae wat ek laas vir hierdie blogpost uitgedink het, gebruik om haar beter te leer ken.

Terwyl sy in die straat afstap word Maia deur ‘n kwaai omie voorgekeer. Dié beweer dat Maia hom gisteraand met kaartspel gekroek het, en hy dring op ‘n verskoning aan. Hoe reageer sy?

Ek is jammer om te sê dat Maia dalk wel die arme man in ‘n kaartspel gekroek het. Of dalk in ‘n spel van dobbelstene, aangesien hulle in haar tydperk nog nie goete soos speelkaarte gehad het nie.

Of Maia nou die ou gekroek het, of nie, sy sal so gou sy kan laat spat. As sy hom wel die vorige aand gekroek het sou hy waarskynlik nie kans gehad het om met haar te praat nie, sy sou net dadelik weggehardloop het.

Wat is Maia, net in reuke?

Sy ruik altyd na varsgekapte neute en komyn, met ‘n ondertoon van perdesweet en koue water.

As Maia ‘n roomysgeur was, wat sou sy gewees het?

Okkerneut en bessie.

Watse gewone ding is daar wat haar vreeslik laat gril?

Sy hou niks daarvan as haar voete vuil is nie, veral nie as dit met so ‘n kurkdroë lagie stof bedek is en heeltemal glad voel nie.

Oor watter onderwerp sal Maia altyd argumenteer, ongeag van die omstandighede?

Die bloedwrekerswet in Valde, of ‘n mens heuning saam met garskoek moet eet, en watter bekende ruiter uit Valde die beste was – Cerrevergaard of Gilyat-Ysterhaar.

Sou Maia iemand doodmaak om ‘n lewe te red?

Sy was gelukkig nooit in die posisie waar sy dit moes doen nie, maar eties sien sy nie iets verkeerd daarmee om dit wel te doen nie.

Wat is, in haar eie woorde, Maia se definisie van ware geluk?

Om net voor sononder ‘n lang, vêr end te perd te gaan ry. Met die ou pad langs, tot by Rivan se heuwel en weer terug. En dan, in die skemer, is daar lig in ons huis. Stemme en die reuke van garskoeke wat braai en bredie op die stoof. Moeder is daar, en die sussies. En Vader, en Guinter.

Is daar iets wat Maia glad nie kan doen nie?

Maia Arvec kan nie sing nie. Dit verhoed haar geensins om vals, entoesiastiese keelgeluide te maak nie. Sy noem dit ‘sing’ en sy geniet dit baie. Veral omdat dit gewoonlik die res van die bevolking soos die Rooi See voor haar laat wyk.

Hoe sou Maia optreë as sy in die openbaar oor haar eie voete val?

Sy sou waarskynlik vinnig opspring, roosrooi bloos en vinnig aanstap asof niks gebeur het nie.

Lewer kommentaar