Afrikaans Skryfgeheime Skryfkuns

Wat is jou MISSIE as skrywer?

missie as skrywer inkswaard

Elke skrywer kort ‘n skrywersmissie. Dit is nou maar net ‘n feit van die lewe. Sonder ‘n missie, is ek maar ‘n skuitjie sonder ‘n roer, aan’t dryf in die Stille Oseaan.

Wa-wa-wag so bietjie, Peggy, sê jy dalk. Wat vir ‘n ding is ‘n skrywersmissie? (En moenie dramaties raak nie.)

Dink ‘n boek. Dink tien boeke. En dink dan nog groter as dit. Dan het jy jou missie. Want jou missie is nie net om ‘n boek te skryf nie. Dit is groter as om woorde op papier te kry, groter as om ‘n boek te publiseer. Jou skrywersmissie is dit wat jy met jou boeke wil bereik.

Gaaf, sê jy dalk nou, maar hoekom kort ek een? Hoekom so ‘n groot storie daarvan maak?

Jou missie is jou dryfkrag

Dink aan iemand wat baie vêr en baie vinnig moet hardloop. As hy hardloop net omdat hy van hardloop hou, of omdat hy lus is, of omdat hy dink dit gaan lekker wees, gaan hy gou-gou moed opgee. Die eerste ruk gaan dit miskien nog goed. Maar as sy asem begin jaag? Sy kuite begin kramp? Die sweet in strome teen hom aftap? Dan gaan hy gou-gou ‘n verskoning kry om te stop.

Maar as gee ‘n bietjie vir hierdie man ‘n rede om te hardloop. Miskien moet hy ‘n belangrike boodskap aflewer. Miskien moet hy hardloop om iemand se lewe te red. Dan sal hy nie stop nie. Nie as hy sy sout werd is nie, in elk geval. Hy sal koersvas volhard, al hoes hy bloed.

Dieselfde ding gebeur as jy, as skrywer, jou missie vind. As jy weet wat die belangrike boodskap is wat jy moet aflewer, dan sal jy nie opgee as dit moeilik word om te skryf nie. Wanneer die hardskrywigheid (writer’s block) jou aan die keel het, of as jou karakters hulle neuse optrek vir jou of as jou storielyn so krom en skeef soos ‘n politikus se morele waardes is, dan druk jy maar deur. Jy hou nie op skryf nie, want jou missie is groter as jou omstandighede.

 

Fantasties, sê jy miskien nou. Maar hoe gemaak om my skrywersmissie te vind?

Dit is nie maklik nie, om eerlik te wees, en dit vereis ‘n bietjie nadenke. Maar hier is ‘n paar vrae wat jy kan antwoord om jou te help om jou missie te vind:

  1. Wat wil jy met jou skryfwerk bereik?
  2. Wat is vir jou belangrik?
  3. Wat sal graag wil hê mense moet van jou boeke onthou?
  4. As daar een ding is wat jy vir dit hele wêreld kon sê, wat sou dit wees?
  5. Wat sou jy as die moeite werd beskou om te skryf, selfs al lees net een enkele persoon dit?

Jy kan ook my persoonlike skrywersmissie lees, as jy dalk ‘n bietjie inspirasie soek!

 

margaret autograph

 

 

 

 

missie as skrywer

Lewer kommentaar