Afrikaans Lees Tags

{tag} vra ‘n LESER

lees

Vandag deel ek neem aan die prettige Vra ‘n Leser-tag. Dit is deur Charis Rae ontwerp, en jy kan gerus gaan inloer op haar blog vir haar antwoorde (en ‘n hele boel interessante plasings oor lees, skryf en boeke!)

WAT HET JOU LIEFDE VIR LEES DIE EERSTE KEER AANGEWAKKER?

As ek moet raai, dan is dit die groot aantal boeke wat my ma vir my voorgelees het as kind. Van my gelukkigste herinneringe is rustige ure op die agterstoep se bank, terwyl my ma vir ons drie sussie goeie boeke voorlees. Laura Ingalls Wilder se Huisie in die Bos-boeke, Rosemary Sutcliff se Robin Hood, Rona Rupert se Wegloopwinter, Hester Heese se Polka Masurka. Ons het hulle almal en vele meer verslind! Dan was daar natuurlik ook nog die Kadette (‘n aantal Europese kinderboeke wat in Afrikaans vertaal is en as ‘n reeks uitgegee is) en die Perd Sonder Kop deur Paul Berna (uit Frans vertaal deur Jan Rabie).
Hierdie boeke het my liefde vir lees vroeg-vroeg reeds aangewakker. Ek kan regtig nie ‘n tyd onthou wat ek nié mal was oor lees nie.

WAAR KRY JY JOU BOEKE?

Soos jy miskien van die vorige antwoord kan aflei is ons gesin groot lesers. Beide my ouers het ‘n groot aantal boeke in hulle leeftyd versamel. Ons huis is van hoek tot kant met boekrakke en stapels boeke oordek. As jy raad wil hê oor hoe om ‘n boekrak van ZZ2-kassies, ‘n paar ou planke en baie selfvertroue aanmekaar te timmer, gee ons gerus ‘n luitjie.
Meeste van my boeke kry ek dus sommer by ons huis.

Ek is natuurlik ook baie lief vir biblioteek toe gaan. Ons is gelukkig om meer as een biblioteek in ons omgewing te hê, en ek maak dikwels van hulle dienste gebruik. Onlangs het die Gautengse biblioteke ook digitaal gegaan (wie sou nou dit kon raai?????). Mens kan nou op die Overdrive/Libby app boeke digitaal uitneem. Dit is baie lekker, want heelparty boeke wat eenvoudig nooit by ons tak uitkom nie kan ek nou op my foon aflaai.

Op die oomblik kuier ek egter by my oom-hulle in Swellendam. As ons baie boeke in ons huis het, oortref my oom ons tot die tweede mag. Ek is gelukkig genoeg om in die kelder te slaap, ook bekend as ‘Die Boekwurm se Paradys”. Die mure is letterlik (wel, figuurlik) boeke.

lees

WAAR LEES JY?

Orals! My gunsteling plekke is egter my bed, die grasperk en ‘n plek waar ek bome kan sien.

 

WANNEER LEES JY?

Wanneer ek ook al ‘n kansie kry. Gewoonlik is dit tydens middagete of in die aand voor ek gaan slaap.

WATSE GENRES LEES JY?

Ek lees en geniet meeste genres. Die enigstes wat ek dadelik sal sê dat ek ‘n draai om loop is romanse en goed wat kwaai belaai is met towery. Hoë fantasie is nie regtig my potjie sop nie.
My gunsteling op die oomblik is spioenasie, historiese fiksie, historiese fantasie, misdaad en Western.

WAT IS JOU GUNSTELING BOEKE UIT JOU KINDERDAE?

Ek het klaar in die eerste antwoord ‘n paar van hulle genoem, maar hier is nog ‘n paar:
Die Keurboslaan-reeks deur Theunis Krogh
Waterbobbejaan deur Ben Venter
Die Ruiter in die Nag deur Mikro
Lafras Cuyper-reeks deur Karl Kielblock

WAT IS JOU GUNSTELING BOEKE?

Sjoe, ek is darem maar bly die vraag is gunsteling boeke nie boek nie! Ek ken geen enkele leser wat sonder moeite ‘n enkele boek as sy gunsteling sal uitwys nie.
My gunstelinge op die oomblik is:
I, Robot deur Isaac Asimov
Frontier Wolf deur Rosemary Sutcliff
To Kill a Mockingbird deur Harper Lee
A Tale of Two Cities deur Charles Dickens
Polka Masurka deur Hester Heese

LEES JY VINNIG OF STADIG?

Vinnig, dink ek.

STEL JY LEESDOELSTELLINGS? WAT IS HULLE?

Ek het hierdie jaar vir die eerste keer vir my die doelwit gemaak. Dit is om 61 boeke voor die einde van die jaar te lees. Dit gaan nie geweldig goed daarmee nie, ek trek nou maar by nommer 20.

HOE HOU JY REKORD VAN WAT JY LEES?

Ek het tot dusver in ‘n ou notaboek my leeslys op datum gehou. Die afgelope paar weke was ek egter weg van die huis, en ek het nagelaat om my leeslys saam te vat. Dus het ek begin op Goodreads te gebruik. Dit is eintlik baie handig.

RAAK JY SOMS VERLIEF OP KARAKTERS?

Um, gereeld? Wie doen dit nie???

DOEN JY ‘BUDDY-READS’?

Tot dusver het ek dit nog nie probeer nie.

LEES JY BOEKE WEER?

Weereens, gereeld.
As ek van ‘n boek hou dan HOU EK VAN HOM, en ek wil hom oor en oor lees. Dit is eintlik op die punt dat dit ‘n slegte gewoonte is wat ek moet afleer. ‘n Ander slegte gewoonte wat ek het is om die einde van die boek eerste te lees. Anders hou my senuwees dit glad nie.

WAT IS DIE BESTE DEEL VAN LEES VIR JOU?

Daar is soveel wonderlike dinge wat leserwees vir my beteken. As ek een moet kies:
Om dinge te voel en te ondervind en deel te hê aan wat ek nooit in die regte lewe sou kon ondervind nie. Op daardie manier kom ek in aanraking met soveel meer fasette van hierdie wonderlike wêreld wat die Here geskape het.

Vanaand het jy nou ‘n paar dinge van my leesgewoontes uitgevind. As jy ook ‘n blog het, neem gerus aan die tag deel! Jy kan die skoon vrae (ongelukkig in Engels) op Charis se blog kry.
Indien nie, antwoord gerus ‘n paar van die vrae in die kommentaarboksie hier onder! Wat het jou aan die lees gesit? Wat is jou gunsteling genres? Vertel my gerus!

Lewer kommentaar