Afrikaans Flitsverhaal

{‘n flitsverhaal} DIE OU MAN

ou man inkswaard

In ‘n hoek van Burbekka, waar wasgoed die nou stegies na nathond laat ruik en maer kinders op stoeptrappies klip-klip speel, bly ‘n ou man met ‘n litteken oor sy oog.

Sy huisie is die een wat tussen die ou Wassemeijergebou, lank reeds leeg en vervalle, en die stadsmuur vasgedruk staan. ‘n Klein huisie, met ‘n kombers vir ‘n deur en ‘n wit porseleinkat op die stoeptrappie.

Die ou man het die porseleinkat op die ashoop anderkant Wilhelmsonstraat opgetel. Die kat se naam is Venter.

Soggens voor die son opkom sit die ou man en Venter op die stoep. Hulle gesels nie. Venter, omdat porseleinkatte nie oor die algemeen in staat is tot verkwikkende geselskap nie, en die ou man omdat hy veel het om oor na te dink.

Hy drink sy oggendtee, rook ‘n sigaret wat hy gister gebedel het, en dink.

Op die stadsmuur kan hy soms die wagte hoor verbygaan. Hulle kom sommer los en vas, nou op die uur, nou op die halfuur, in groepies van drie en twee en vyf. In sy dae sou sulke ongereëldheid swaar gestraf geword het.

‘n Oomblik span sy vingers styf om die beker, maar hy forseer homself om te ontspan. ‘n Diep skuif aan die sigaret te vat. Sy dae is lank verby en mistig, en moet so bly.

Daardie spesifieke oggend, na ‘n geselsende groepie soldate op die muur verbygegaan het, hoor die ou man perdepote in die straat.

Deur die dowwe vroegoggend mistigheid kan hy ‘n groot swart dier gewaar.

Die man op sy rug sit baie regop, die pluim op sy helm trots en skelrooi. Op sy perd se toom rinkel ‘n ry silwer, vrolike klokkies.

Die ou man kom stadig op sy voete.

“Die Vircingeri trek laer anderkant die Berg,” sê die man. “Ons het u nodig, u majesteit.”

Die ou man kyk na Venter, en sy halfleë koppie tee, en sug.

Lewer kommentaar