Afrikaans Skryfkuns

{4 dinge} wat ek besef het OOR SKRYF

4 dinge wat ek besef het oor skryf

Vandag wil ek graag met jou ‘n paar dinge deel wat ek al oor skryf geleer het.

Nou, oor die algemeen is ek nie eintlik ‘n ou wat graag skryftips uitdeel nie. My gevoelte is dat ek liewer die een is wat raad moet vra, nie die een wat dit moet probeer uitdeel nie! Soms, as ek deur ‘n moeras van storielynfoute stoei of my trop balhorige karakters probeer indwing in iets wat naastenby na ‘n logiese storie lyk, dan dink ek dat ek tog net nooit ooit moet probeer om ander mense te sê hoe hulle moet skryf nie.
Maar, hier is ek. Gestewel en gespoor om jou raad te gee oor skryfwerk. Want, tussen al my gestoei deur het ek ‘n paar dinge besef oor skryf. Dit het my al baie gehelp, en ek hoop dat dit vir jou ook van nut sal wees.

 

WOORDE IS GOEIE DIENAARS
(MAAR GEVAARLIKE MEESTERS)
(hehe, Keurboslaan verwysing)

As daar nie woorde was nie het ons g’n manier gehad om ons gedagtes te deel nie. Ons sou geen geleentheid gehad het om wêrelde te skep of verhale inmekaar te weef nie. Met woorde kan ons emosies en gedagtes in ons lesers stimuleer. Ons kan paragrawe skryf wat ‘n duisend prentjies werd is.

Dit is voor die hand liggend, dan, dat woorde ‘n skrywer se belangrikste stuk gereedskap is. Ongelukkig is dit nie ‘n stuk gereedskap wat sonder oefening hanteer kan word nie. Jy sal baie ure se geduld en getrouheid nodig hê om dit te bemeester.

As jy nie hard werk daaraan om ‘n woordmeester te word nie, beland jy dalk terstond in ‘n ongemaklike posisie. Jy sien, as jy nie die woorde oorheers nie, neem hulle gou-gou die kans waar om jou te oorheers. Ek praat uit ondervinding wanneer ek sê dat dit maklik is om woorde verkeerd te gebruik. Te veel byvoeglike naamwoorde, te veel onduidelike terme, te veel quasi-geleerdheid. Naderhand gaan die hele betekenis van wat jy wou sê verlore.

Want om ‘n woordmeester te wees beteken nie net om ‘n indrukwekkende woordeskat te hê nie. Dit beteken nie net om eenduisend-tweehonderd-en-drie sinonieme vir “loop” te ken en te weet dat plusquamperfektum nie iets is wat jy by kos gooi om dit smaaklik te maak nie.

Om ‘n woordmeester te wees beteken om te weet watter woorde om te gebruik, en wanneer om hulle te gebruik, om ‘n klokhelder beeld in jou leser se gedagtes te plaas.

OPLETTEND IS JOU TWEEDE NAAM

Lesers hou van boeke waar hulle hulle kan inleef. Soos ek dit verstaan, beteken dit dat hulle iets van hulleself en hulle lewens in die boek wil raaksien.

Dit beteken natuurlik dat ons, as skrywers, ons oë wawyd oop op die wêreld gerig moet hou. Ons moet alles raaksien, want daar is orals stories. In die hittepoele op warm teer en die gelag van twee ou vriende op ‘n stasie en die spookagtige gelui van ‘n kerkklok in die nanag. Ons moet al hierdie dinge raaksien en oordink en in ons notaboekies probeer neerpen. Dit is wat ‘n boek werklik maak. Soek vir simboliek en patrone en betekenis. As jy hierdie dinge in die regte lewe kan raaksien en beskryf, sal dit jou taak met denkbeeldige plekke baie makliker maak.

Oplettendheid beteken dat jy daardie een detail raaksien wat ‘n toneel soos ‘n skildery laat oopvou.

4 dinge wat ek besef het oor skryf

SKRYF ASOF JOU STOEL AAN DIE BRAND IS

En hiermee bedoel ek jy moet skryf dat die stof staan. Dat jou vingertjies krampe kry. Geen tyd vir rondhang en jouself in twyfel trek nie. Skryf net.

Ek weet dis moeilik, ek sukkel self my dood daarmee. As die paragraaf wat ek nou net geskryf het nie so goed is soos die een uit die boek wat ek onlangs gelees het nie, dan wil ek sommer alles uitvee, my rekenaar afsit en nooit weer ‘n woord skryf nie.

Dit was hoe ek gevoel het, tot ek eendag iets besef het. Daardie paragraaf uit daardie goeie boek? Iemand, iewers, het dit geredigeer tot hy letterlik blou in die gesig was. Die woorde het nie net so uit die outeur se kop gespring en gesellig op die bladsy gaan sit nie. Nee. Hulle is geredigeer en nagesien en nogmaals nagesien. (En toe, soos jy seker kan raai, nog ‘n keer geredigeer.)

Hierdie besef het my die vryheid gegee om my basiese manuskrip te skryf terwyl die insparasievlam nog hoog brand. Dan, later, kan ek my binnestem vriendelik nooi om te kritiseer soveel haar hart begeer. Want sy help my om my growwe steenkool in diamante te omskep.

Om vinnig te skryf beteken dat jy vir daardie wonderlike oomblikke wat jy besig is om te skep, moet ophou om ‘n perfeksionis te wees.

WEES ‘N BIETJIE TROTS
(OF BAIE TROTS, EINTLIK)
(SOMMER GROOTKOP)

Wa-wa-wa-wa-wag ‘n bietjie. Hoe nou? Trots? Grootkop? Dis mos nie ‘n mooi ding nie!

Sê ek nou vir jou vandag, jy moet trots wees op jou skryfwerk.

Net nie ter wille van jouself nie.

Jy moet trots wees op die werk wat die Here deur jou gedoen het.

Elke woord wat jy skryf is ‘n resultaat van die talente wat God vir jou gegee het. Dit is, eintlik, alles God se werk. As wat jy geskryf is in lyn is met wat in die Bybel staan en wat die Here is, dan kan jy verskriklik trots wees daarop. Nie omdat jy dit gedoen het nie, maar omdat die Here dit gedoen het. Jy kan jou eie sondige trots aan bande lê, omdat jy weet dat alle eer aan die Here behoort. As iemand jou vra oor jou skryfwerk kan jy dit met vreugde met hulle deel, sonder om te spog, omdat jy besig is om iets te deel wat die Here aan jou gegee het.

Skrywerstrots en skrywersidenteit lê daarin om al die eer aan die Here te gee.

Hierdie is die paar dinge wat ek al oor skryf besef het. Ek is seker daar is meer, maar ek kon dit nog nie verder in woorde omsit nie.

Nou, ek is baie nuuskierig om te hoor wat jy al van skryf besef het. Praat asseblief met my in die kommentaarhuisie hier onder!

margaret autograph

1 thought on “{4 dinge} wat ek besef het OOR SKRYF”

  1. Plusquamperfektum klink nogal soos ‘n wonderspesery uit Gallië 😀

    Jou laaste skryftip is vir my baie waardevol. Dit is eintlik valse nederigheid as mens nie die Here se genadige werking in jou lewe erken nie, want dat kry die Here steeds nie die eer wat Hom toekom nie. Ek wil eerder egte nederigheid hê waarin ek alle eer aan God gee wat Hom toekom.

Lewer kommentaar