Afrikaans Kortverhale Kurt Landsberg

Die Klant

die klant kurt landsberg

Dit is ‘n yskoue wintersaand in Richmond.
In die verwaarloosde kafeetjie aan die rand van die dorp sit Kurt Landsberg ‘n toebroodjie en eet. Kaas-en-ham. Dit smaak om een of ander rede so klein bietjie na Omo, maar Kurt is te honger om om te gee.
Die kafeetjie by die petrolpomp is die enigste plek in die dorp wat nog oop is. Kurt weet, want hy het tyd gehad om die hele dorp deur te stap terwyl hy vir sy toebroodjie gewag het.
Hy sink sy tande in die olierige brood weg en gee ‘n klein suggie van genot.
Dit is ‘n misbaksel van ‘n aand, en ‘n misbaksel van ‘n dorpie en ‘n misbaksel van ‘n kafee en ‘n misbaksel van ‘n broodjie. Maar Kurt Landsberg was nog altyd ‘n ou wat tevrede is met wat hy het.
Die vrou agter die toonbank het geen tande voor in haar mond nie. Elke af en toe, as Kurt in haar rigting kyk, gee sy hom ‘n breë glimlag. Kurt dink dis omdat hy haar met ‘n honderdrandnoot betaal het en sy hom nog nie kleingeld gegee het nie.
Maar hy glimlag terug en kou verder aan sy broodjie.
Toe hy nog net ‘n korsie oor het dreun daar ‘n kar buite. Hoofligte speel ‘n oomblik oor die kafee se vensters voor hulle afgeskakel word.
In die spreiligte onder die petrolpomp kan Kurt ‘n gehawende Nissanbakkie voor die kafee sien stilhou.
Hy frons. En frons dieper toe twee mans vinnig uitklim. Een van hulle het ‘n haelgeweer.
‘n Vinnige blik na die tannie agter die toonbank vergewis hom van die feit dat dit nie, inderdaad, haar twee kleinseuns is wat maar net die gewoonte het om ‘n haelgeweer saam te bring as hulle kom kuier nie.
Kurt sit sy toebroodjie traag neer en begin sy olierige hande aan sy linkerbeen afvee.
Die wind skeer geniepsig deur die vertrek toe die twee mans die deur oopstamp. Dit ruk ‘n stapel servette van die toonbank af, laat die geraamde stoeigevegplakkate teen die muur ratel.
Die tandelose vrou krimp inmekaar.
“Naand, tannie Trisha!” Die man met die haelgeweer se stem is joviaal. “Hoe lyk dit met ‘n bietjie geld, my tannie?”
Die vrou glimlag, en Kurt voel onmiddellik soos ‘n misbaksel. Dit is dieselfde manier as wat sy vir hom geglimlag het. Sy’t seker die heeltyd gewonder wanneer hy haar geld gaan probeer steel.
“Daar is net ‘n ou honderd randjies, Wynand,” sê sy paaiend. “En ek het nog nie eers vir die meneer daar anderkant sy kleingeld gegee nie.”
Vir twee ouens wat kafees in hulle vrye tyd beroof is hulle rerig nie baie oplettend nie, reken Kurt. Hulle kyk na hom asof hulle hom die eerste keer raaksien.
Die een met die haelgeweer is ‘n aantreklike vent, met ligte hare en donker oë en die belofte van goedgeoefende spiere onder sy dik parka.
Dieselfde kan nie van sy maat gesê word nie. Kurt doop hom sommer Frankenstein.
“Naand,” sê hy.
Die aantreklike een, Wynand, rig die haelgeweer op hom.
“Naand, my oom,” sê hy. “Lekker aand, nie waar nie?”
Kurt haal sy skouers op.
“Dit hang af,” sê hy.
Die ou luister nie eintlik vir hom nie.
“Nou, kyk, ons en tannie Trisha is mos ou vriende,” sê hy. “En elke af en toe, as dit met ons ‘n bietjie skraps gaan, dan help tannie Trisha ons uit met ‘n bietjie geld. Jy sal tog nie in die pad wil staan van ‘n ou vriendskap nie, my oom?”
Kurt wikkel sy bevrore tone in sy stewels.
“By uitstek verkies ek dit om uit mense se pad te bly.”
Wynand lag goedkeurend.
“Nou, maar dis mooi, my oom. Toe, my tannie! Opskud met daar geldjies.”
Die vrou se hande bewe toe sy die kasregister oopsluit. Daar is twee vyfsente en Kurt se kraaknuwe honderdrandnoot in. Hy weet nou hoekom sy nie vir hom kleingeld gegee het nie.
Sy stoot die geld versigtig oor die toonbank.
Die lelike knaap, wat ‘n kakebeen soos ‘n stootskraper het, uiter ‘n gromgeluid en klap die geld dat dit trek.
“Hoekom sal jy vir ons verdomde vyfsente gee?” bulder hy.
Die vrou snik van vertwyfeling.
“Ek is jammer,” sê sy. “Ek is jammer, ek het net gedink…”
“Moenie dink nie,” sê Wynand gemeensaam. “Gee die honderdrand.”
Terwyl die vrou agter die toonbank buk draai hy skielik na Kurt.
“Hei, my oom, jy’t nie dalk nog so ‘n paar bloues nie?”
Kurt frons en voel-voel na sy beursie.
“Twaalf om presies te wees,” sê hy.
Hulle kyk vir mekaar, lag ongelowig.
“Lyk my ek en jy gaan nog baie beter vriende word as die tannie, my oom.”
Hulle aandag is nou op hom gevestig, en Kurt roer sy skouers eksperimenteel in sy baadjie toe hulle nadergestap kom. Dis ‘n nuwe een, wat hy ‘n Bloemfontein gekoop het. Hy’t nog nooit voorheen in hom vuisgeslaan nie.
‘n Paar treë van sy tafeltjie af bly hulle staan.
“Haal maar uit,” sê Wynand.
Kurt gee hom ‘n minsame glimlaggie.
“Daar is ‘n kort antwoord en ‘n lang antwoord op daardie versoek,” sê hy. “Watter een wil jy eerste hê?”
‘n Oomblik lank is dit stil in die vertrek. Kurt verbeel hom hy kan hoor hoe die ratte in die twee skurke se klapperdoppe kraak.
“Ek besluit maar sommer vir julle. Die lang antwoord is – nee, jou afskuwelike klein misbaksel.”
Frankenstein grom weer, maar Wynand hou hom met ‘n hand op sy borsbeen terug.
“En die kort antwoord?” vra hy deur geklemde tande.
“Dit,” sê Kurt, en bespring hom.

Later, na hy mooi askies gevra het vir die gebreekte tafel en die bloed op haar vloer, gee Kurt die tannie twee honderdrandnote. Hy vra nie askies vir die twee bewustelose skurke op die vloer nie, hy reken sy sal dit geniet om hulle dop te hou totdat die polisie opdaag. Net vir ingeval gee hy vir haar Wynand se haelgeweer.
Toe druk hy die laaste stuk van sy seperige broodjie in sy mond, slaan sy baadjie se kraag op en stap uit in die koue wind.
Die nuwe baadjie, besluit hy, deug baie goed vir vuisslaan.

Lewer kommentaar