Die vrou met die hare (Doodloopstraat 2)

Die eerste ding wat Antoine sien, toe hy uiteindelik uit die bodemlose put van vergetelheid swem en die oppervlak breek, is die seun van die kroeg wat hom met bekommerde oë aanstaar. Die kind skyn in ‘n wolk te sweef. ‘N Paar keer moet Antoine sy krapperige oë knip voordat hy darem sien dat die kind op die punt van ‘n bed sit. ‘N Bed waarin hy wat Antoine is skynbaar lê.

Links van hom voel hy nog iemand staan. Sy nek kraak toe hy sy kop draai.

‘N Vrou staan langs die bed, haar ligte hare in ‘n kroon om haar kop. Sy lyk soos ‘n bosnimf, besluit Antoine. ‘N Lang, elegante bosnimf in ‘n denimbloes, maar ‘n bosnimf nietemin.

In haar hand het sy ‘n wit doek. Dit is ‘n koel en nat en wonderlik teen die koorsigheid toe sy daarmee oor sy kop vee.

“My naam is Debora Fourie. Jy het baie seergekry.”

Hy glimlag wrang.

“Effens, ja.” Hy sluk ‘n slag met moeite. “Waar is ek?

“Obertass Hotel, Eggokop, provinsie Danfelle, republiek van Praida.”

Hy het nie ‘n hemp aan nie, merk Antoine, en toe hy sy kop effens lig sien hy die afskuwelike rooi opgehewendheid van ‘n wond. Regs op sy borskas, naby die ou litteken wat hy in Kansas City opgedoen het.

“Het ek geveg?”

“Jy het, ja. En ons sal later daaroor planne moet beraam. Maar sê my nou eers, is jy allergies vir enige antibiotika?

“Nee…hoekom?”

“Jy het ‘n lelike snywond op jou bors. Ek sal dit moet toewerk, en jou iets vir die pyn en ontsteking moet gee. En moenie probeer sê dat jy nie pynstiller wil hê nie. Dit is net ek en JP hier en ons sal jou nie kan stilhou as ek met ‘n naald begin vroetel nie.”

“Ek protesteer glad nie. Is jy ‘n dokter?”

Sy skud haar kop, en buk by ‘n tafeltjie net binne sy periferie. Daar is ‘n spuitnaald in haar hand toe sy weer regop staan.

“Nee. Maar ons is baie kilometers van die naaste een, en buitendien het my bakkie nie petrol nie. Ek het al genoeg diere en dronkaards toegewerk om gesout te wees in die kuns. Op die oomblik is ek maar die beste wat jy het.”

Die vertrek is klein, met houtmure en ‘n deur aan die linkerkant. Twee mense, ‘n vrou en ‘n klein seun. Links is ‘n venster, met dik diefwering. Buiten die bed en die hangkas in die oorkantste hoek is daar geen meubels nie. Hy sal die deur kan bereik. Miskien die trappe ook, en die buitedeur.

Maar buite? Donkerte en ‘n onherbergsame, slapende dorp. Hy kan werklik nie onthou met wie of wat hy baklei het nie, maar hulle het ongetwyfeld vriende.

Hy sak maar met ‘n gelate sug terug op die kussings. Buite sal hy sterf, dis nou maar wors.

Die vrou, Debora Fourie, buk oor hom met die spuitnaald. Haar hand in die rubberhandskoen is koel op sy borskas.

“Wat is jou naam?”

“Antoine.”

“Dit gaan seer wees tot die pynstiller begin werk, Antoine.”

Hy gee haar ‘n weer ‘n wrang glimlag.

“Toemaar, mevrou, ek is al ‘n ou kryger. Ek weet. Gaan maar voort.”

Sy knik vir die seun, en dié skuif nader, ‘n benoude uitdrukking op sy stomp gesig. Antoine gee hom ‘n gerusstellende glimlag, en hy skrik byna vir die heldeverering wat dadelik in die seun se oë ophelder.

Die naald skuif nader na die bopunt van die wond.

Bo op die dak vind Antoine vir hom ‘n vuil kol. Hy fokus sy hele wese daarop, verbeel hom dat daardie kol die heel belangrikste ding in die hele wêreld is. Niks mag sy aandag daarvan aftrek nie.

Hy voel die ruk en steek toe die skerp punt deur die vel dring. Brandpyn, toe die medikasie deur sy bloedstroom sprei. Hy byt op sy tande.

Die volgende prik is erger. Sy hele borskas is skielik bedek met ‘n mat vol spykers. Hy kan die kreun wat deur sy saamgeperste lippe vloei nie keer nie, of die lou glibberigheid van trane wat skielik uit sy ooghoeke stroom nie. Sy nek kraak weer toe hy agteroor ruk van inspanning om sy torso stil te hou.

Dan, genadiglik, skop die medisyne in. ‘N Wonderlike gevoel van doodsheid blus die vuur, sprei soos ‘n koel waas oor sy lyf en sy kop.

Af en toe, deur die wasigheid, is daar stemme. Die geklink van instrumente, die sensasie dat daar aan sy borskas gewerk word.

Iemand buk oor hom, miskien heelwat later. Haar gesig is vaag deur die wasigheid, haar hare ‘n kroon. Hy kan nie haar naam onthou nie.

“Ek kon darem alles toekry,” sê sy.

“Jy’t mooi hare,” sê Antoine vriendelik.

Sy glimlag.

“Slaap maar, Antoine.”

En hy maak sy oë met ‘n sug toe en dryf.

Lewer kommentaar