Kajuitraad met ‘n karakter – JP Fourie

Wie’s JP?

JP is, in sy eie mening, ook die hoofkarakter van Doodloopstraat. En die knaap het eintlik reg. Helfte van die hoofstukke, onder andere die eerste een, is uit sy oogpunt geskryf. En hy speel op die ou end ook ‘n baie belangrike rol in die storie…

Wat voorkoms betref is JP ‘n taamlik generiese dertienjarige. Sy ore is bak, sy hare deurmekaar en sy oë skitter van ‘n soort brutale astrantheid. Hy het nog nie begin groei nie. Darem is sy ma en pa altwee lang mense, en sy oom is ‘n reus, so hy hoop om binnekort heelwat langer te word.

Hy dra gewoonlik ‘n t-hemp met ‘n kortbroek (of ‘n denim, vir Sondae).

 

Die onderhoud

Die skrywer: Môre, JP!

JP Fourie: Hallo! Ek het jou lanklaas gesien!

DS: Inderdaad…ek het die afgelope paar weke meer tyd in de Villiers se oogpunt bestee as in joune. Maar moenie ongelukkig raak nie, jou beurt kom!

JPF: Ag, ek’s rustig.

DS: Mooi. Goed, soos jy weet moet ek vandag met jou ‘n onderhoud voer. Reg vir die eerste vraag?

JPF: Gooi hom!

DS: Ek het van ‘n betroubare bron gehoor dat jy eintlik ‘n kranige ruiter is. Vertel ons bietjie van jou perd en wat jou planne daarmee is ensovoorts.

JPF: My perd se naam is Gold en hy is fan-tas-ties! Die oulikste freakin’ perd ooit. Hy’s verskriklik slim, sien, en deksels vinnig. Toe ek nog op Eggokopskool was het ek baie met hom gespring. Ons hoogste was ‘n meterbaan, wat hy geclear het, en toe was hy nog net vyf gewees! Ons het die 80cm-klas gewen daai jaar. Jy moes die suur gesigte gesien het wat ou Georgey-hulle getrek het! Hulle volbloedperdjies is nou wel mooi, maar hulle het nie soveel hart soos Gold nie.

DS: Ek dag Gold is ook ‘n volbloed?

JPF: Gold is ‘n Bergvolbloed, nie ‘n Engelse Volboed nie. Dit glad nie dieselfde ding nie! Ek dink my pa het Gold nog by ‘n stoetery in Valdewi gekoop. Hy’s geregistreer en alles.

DS: Sjoe! So, beplan jy om verder te gaan met die perdryery?

JPF (kyk rond): Moet nou nie vir my ma sê nie, maar ek wil graag as ek oud genoeg is die nasionale hindernisren in Heshnoc gaan ry. Dis vrek gevaarlik, maar ek en Gold sal dit kan doen.

DS: ‘n Hindernisren? Dit klink interessant! Hoe werk dit?

JPF: Dis eintlik maar net ‘n geweldige lang cross country baan. Moewiese spronge en lang afstande wat mens so vinnig as moontlik moet probeer klaarmaak. En mens ry nie op jou eie nie, jy jaag in ‘n groep van drie. So daar is altyd die moontlikheid dat die ander ouens jou gaan probeer stamp. Dit gebeur nogal baie. Die laaste hindernis is so ‘n moewiese afdraande. Laasjaar het twee ouens daar gebots en met die gebreekte been elk onder geëindig.

DS: Ek kan my voorstel dat jou ma nie uit haar vel sal wees as sy hoor dat jy dit wil doen nie.

JPF: Aaag, dis nie so erg nie! En as ek goed doen daar kan ek as ek agtien is ook proewe doen vir die Olimpiese span.

DS: Hm. Nou, ons tyd is amper op, so hier is nog ‘n laaste vraag. Wat sal jy eerder wees as jy groot is, sterk of slim?

JPF: Slim seker maar…dit help nie veel as ‘n ou groot bo-arms het en hy weet nie wat om met hulle te doen nie, soos oom Antoine sê. En jy kan altyd oefen om sterker te word. Mens kan seker oefen om slimmer ook te word, maar ek dink nie dit is so maklik soos om te gym nie.

DS: Dag ek nou ek gaan jou uitvang… Baie dankie vir die onderhoud, JP! Sien jou later weer.

JPF: Dis ‘n groot plesier. Cheers!

 

En daar het julle dit. Ek het so half verwag JP gaan baie meer ongeskik wees! Oor die algemeen is hy ‘n bietjie van ‘n astrante ventjie. Nouja, miskien is hy besig om groot te word.

 

In Christus

margaret autograph

Lewer kommentaar