Kurt Landsberg Die voetganger

Die Voetganger

Kurt Landsberg het in sy lewe al by baie plekke ingeloop. Stasies en hotelle en winkels en lughawens en kerke en stowwerige kroegies in die Bosveld waar konsertinamusiek oor die radio speel.

Hy’t ook al in baie goed vasgeloop. Bedkassies en deure en die hoek van ‘n toonbank en ander mense en ‘n dronk ou in ‘n Bosveldkroeg se vuiste. Kurt het nie verwag dat die ou met sy vaatjielyf so vinnig kan beweeg nie. Sy linkeroogbank staan nou nog ‘n blou en opgehewe knop.

Die ding egter waarin Kurt hom al die heel meeste vasgeloop het is moeilikheid.

Dis nie dat hy ‘n skoorsoekerige vent is nie. Hy hou net nie daarvan as mense met hom sukkel nie. Dan sukkel hy terug. En Kurt Landsberg, oor die algemeen, is ‘n man wat baie effektief kan sukkel.

Soos die dronk man in die Bosveldse kroeg, ‘n week gelede. Kurt se oog is wel blou en daar is ‘n klein snytjie op sy ribbes, maar die ander ou het ‘n gebreekte neus en twee tande minder. Hy het nie bedoel om die man haasbek te slaan nie. ‘n Mens raak soms oorywerig as iemand jou in die ribbes kielie met ‘n mes.

Kurt is daardie snikwarm oggend op ‘n plaaspad…iewers. Hy weet self nie presies waar nie, en dis die hele gemors. Hy wou Fraserburg toe. Sommer omdat hy nooit voorheen daar was nie en dit vir hom ‘n mooi naam is. Maar iewers het sy interne kompas deurmekaargeraak en nou foeter hy al vir ure lank tussen niks en nêrens aan.

Sy tone brand in sy stewels. Sweet tap uit sy hare en kielie oor sy rug. Sy lippe is droog en gekraak as hy af en toe met sy tong daaroor lek.

Toe hy uit Sutherland weg is het hy sy sakdoek natgemaak en oor sy kop vasgebind, maar dit is nou al kurkdroog.

Agter hom is daar eensklaps ‘n dreuning. Hy gaan staan, kyk met sy hand oor sy oë na die blinklyn waar stofpad hemel raak.

Ja, daar’s ‘n stoffie. ‘n Mooie, mooie stoffie.

Dis ‘n wit Toyota Hilux met swart relings agterop. Enkelkajuit en rooi van die stof. Die bestuurder is alleen in die motor, en toe sy naby kom sien Kurt dat dit ‘n vrou is.

Sy stop ‘n ent van hom af en draai die venster halfmas af.

“Wat soek jy hier?”

Sy’s mooi, dink Kurt, op die manier wat ‘n kameeldoringboom mooi is. Uniek. Taai. Effens bitter. Haar blonde hare is in ‘n hoë poniestert en haar blou oë betrag hom waaksaam uit ‘n bruingebrande, ronde gesig. In die skemering binne die bakkie kan Kurt haar een boarmspier sien bult. ‘n Pistool dalk, in eelterige vingers buite sy sig vasgeklem, of ‘n jagmes of pepersproei.

Hy sorg dat hy sy liggaamstaal vriendelik hou, sy gesig oop en sonder bedreiging.

“Ek is oppad na Fraserburg,” sê hy. “Ek het verdwaal.”

“Fraserburg?” Daar is ‘n senuweeagtige ruk aan die vrou se lippe. Dis nou al die vierde keer wat sy in haar truspieëltjies kyk, besef Kurt.

“Fraserburg, ja.”

Die vrou se oë kam oor hom. Die stowwerige stewels, die verslete denim, die kakiebaadjie om sy middel vasgeknoop, die sweetnat blou hemp. Kurt weet hy lyk soos ‘n rowwejack. ‘n Rondloper. ‘n Vuil uil. Sy stoppelbaard is dae oud en sy oog is blougeslaan.

Maar dan ontspan haar boarm.

“Klim in,” sê sy. “Jy sal vir jou doodbrand, hier op die Rantepad.”

Kurt laat hom nie twee keer nooi nie.

Die bakkie se sitplekke is met beskermers oorgetrek en die verkoeling streel sy gesig soos ‘n Kaapse golfie.

Met ‘n gebrul van die enjin trek die vrou weg. So in die ry, met die spoednaald al klimmende, gee sy vir hom ‘n bottel water aan.

“Jy’s gedehidreer.”

Kurt stry nie. Hy drink net diep slukke.

“Watse soort fool is jy in elk geval,” gaan sy verder. “Om hierdie pad op die hitte van die dag sonder water aan te pak?”

“Die omie in die kroeg op Sutherland het gesê dis nie ver nie.”

Sy glimlag skeef, haar oë weer op die truspieëltjies.

“Ver is hierlangs ‘n relatiewe term.”

Kurt knik woordeloos.

Die binnekant van haar bakkie ruik na peperment. Dit is skoon, nie blinkskoon nie, maar skoner as baie bakkies waarin hy al gery het. In die bakkie agter die rathefboom is daar ‘n foon, ‘n Bobby van Jaarsveld CD en ‘n klompie los tandestokkies. ‘n Opgerolde stuk tou en ‘n breërand hoed vibreer saam met die bakkie se enjin by sy voete.

En in ‘n holster, netjies teen die kant van die vrou se sitplek vasgegespe, is ‘n pistool.

“My naam is Kurt,” sê hy. “Kurt Landsberg.”

Sy antwoord eers nie. Kurt wag maar geduldig.

“Amilie Joubert,” sê sy toe na ‘n ruk. “Mevrou Amilie Joubert.”

Die beklemtoning op die ‘mevrou’ is baie merkbaar. Nadenkend krap Kurt deur sy stoppelbaard. Die vrou is deksels senuweeagtig, dis duidelik.

“Gaan jy tot in Fraserburg?”

“Nee.” Sy vee met ‘n effens bewende hand sweet van haar bolip af en kyk in die truspieëltjie. “Ek sal jou tot by die plaas vat. Dis dan nog so tien kilos Fraserburg toe. Ek sal vir jou water gee.”

Die naald bewe tussen 100 en 110, sien Kurt onderdeur haar dun voorarm. Die bakkie skud toe hulle oor ‘n veehek ratel. Links vlak langs die pad is daar eensklaps ‘n skuur, maar hulle spoed daar verby. So half in die verbygaan sien Kurt die vaalgroen Cruiserbakkie wat in die diep skaduwee langs die skuur geparkeer staan.

“Jy’s haastig, mevrou.”

Haar kneukels is wit om die stuurwiel, en die bakkie brul na 120 toe.

“Ja, dis –“

Kurt hoor die knal van ‘n geweer ‘n oomblik voor die agterruit aan skerwe spat.

Amilie vloek.

Die Cruiser is vlak agter hulle, sien Kurt toe hy omkyk, sy bullbar soos ‘n honger hond se snoet al op hulle agterwiele. ‘n Donker figuur en blink geweerloop loer bo-oor die kajuit se kap.

Amilie bestuur verwoed, krom en verbete oor die stuurwiel. Haar oë is vasgenael op die pad.

Kurt maak van die kans gebruik om haar pistool te gryp. Dit is ‘n Glock, ‘n klein model wat verdwerg word in sy hand. Toe hy dit span kyk Amilie vir hom. Haar mond word slap, haar oë wyd van vrees. Sy dink die ergste, besef hy, maar hy het nie tyd om haar gerus te stel nie.

“Hou jou oë op die pad!”

Hy duik vooroor toe nog ‘n skoot klap. Draai sy lyf skuins sodat hy oor die sitplek se rugleuning kan losbrand.

Sy eerste drie koeëls is ver mis. Hy’t lanklaas geskiet, en buitendien bokspring die bakkie soos ‘n jong os oor die sinkplaatpad.

Sy vierde skoot moet effe nader aan die teiken wees. Die figuur agter op die Cruiser koes.

Hy duik egter gou weer op en Kurt is verplig om self te koes toe die skote om sy ore klap.

Toe snak Amilie en die Toyota slinger soos ‘n gewonde perd. Daar is bloed aan haar skouer, sien Kurt. Sy bring die bakkie egter meesterlik terug na die pad, sonder om die angswekkende spoed een oomblik te verslap.

Hierdie storie moet nou onmiddellik gestaak word, besluit Kurt toe ‘n ruwe skud van die bakkie hom teen die paneelbord vasgooi. As dié ouens vir moeilikheid soek, sal hulle dit mos wragtag kry ook.

Hy skiet regop, stut sy arm op die agterkant van die sitplek en skiet om te verniel.

Twee koeëls slaan in die Cruiser se voorruit vas en spinnerak die bestuurder se hele uitsig vol.

Kurt sien met ‘n gevoel van tevredenheid hoe die bakkie Kaapse draaie begin gooi.

Op die dak is die skutter ook skielik van balans af. Kurt skiet hom, in die skouer dink hy. Hy verdwyn met ‘n geflits van sy geweerloop en kom nie weer te voorskyn nie.

“Komaan,” skree hy oor die gebrul van die enjin vir Amilie. “Dis nou die tyd om te laat vat!”

Die Hilux se kragtige enjin brul, en kort voor lank is die Cruiser net ‘n stoffie op die horison.

 

Die plaas waarheen Amilie Joubert hom vat staan op ‘n heuwel. Daar is ‘n geel huis met ‘n windpomp en ‘n plaasdam voor. Sy parkeer eenkant onder ‘n sinkplaatafdak, voor ‘n groot skuur.

‘n Oomblik sit hulle so in die warm stilte. Haar kneukels is nog steeds wit om die stuurwiel geklem, en sy laat sak eensklaps haar kop. Haar skouers ruk.

“Waar is mnr. Joubert, as ek mag vra?”

“Lykshuis op Sutherland,” sê Amilie, haar stem dik van die trane.

“Ongeluk?”

“’n Koeël in die kop.”

“Dieselfde gemorse wat op ons teiken geskiet het?”

Sy leun terug in haar sitplek, haar hand om haar bebloede boarm geklem.

“Ja, ou familievriende,” sê sy bitter. Daar is twee dun tranestrepies oor haar stowwerige wange. Kurt sou vir haar sy sakdoek gegee het, as dit nie styf van sy eie sweet om sy kop vasgebind was nie.

“Kan ek my pistool terugkry?”

Kurt betrag die Glock ‘n oomblik. Toe kyk hy vir Amilie.

“Op voorwaarde dat jy my nie daarmee van die perseel verwilder nie, mevrou Joubert.”

“Akkoord.”

Sy vat dit by hom, lig haar t-hemp en steek dit in haar gordel. Kurt kyk beleefd anderpad. Mevrou, het sy mos gesê.

“Jou arm bloei,” sê hy na ‘n ruk.

Amilie maak woordeloos die deur oop en klim uit.

Hy volg haar, sy hare prikkelend agter op sy nek. Die werf lyk stil en rustig genoeg, maar hy vertrou nie heeltemal die vrede nie.

Twee skaaphonde kom stil-stil oor die stoep aan. Hulle steek vas toe hulle hom gewaar, hurk grommend inmekaar.

“Bruines, Nina.” Amilie se stem is paaiend. “Orraait, ounooi se honne.”

Hulle waaistert vir haar, maar gee Kurt nogtans ‘n oppas-vir-jou kyk toe hy by hulle verbystap.

Die huis is antiek, miskien uit die Boereoorlogtyd, met dik mure en ou houtdeure. En baie stewige grendels, tot Kurt se verligting.

In die kombuis begin Amilie in ‘n kas krap, en na ‘n ruk kom sy met twee waterflesse tevoorskyn.

Toe sy na die kraan stap treë Kurt in haar pad in. Sy kyk op in sy gesig, haar hand onwillekeurig op haar heup waar die pistool is.

“Jou arm bloei,” sê hy weer.

“Ek het jou water belowe.” Haar lippe is wit en styf. “Vat dit en maak dat jy wegkom. Hierdie hele spul het niks met jou te doen nie. Ek is reeds jammer dat ek jou in gevaar gestel het, nou-nou op die pad.”

Sy probeer by hom verbyskuur maar Kurt skuif weer eens in haar pad in.

“Ek gaan nêrens nie, ou kind.” Hy grynslag vir haar. “Dis nie ‘n partytjie as daar nie skote afgetrek word nie, het my broer altyd gesê.”

“Jy verstaan nie. Hierdie manne speel nie. Noudat Pieter…noudat Pieter weg is, sal hulle nie tyd verspeel om my ook dood te maak nie.”

“Des te meer rede om te bly,” sê Kurt vrolik. “Kom, mevrou. Het jy noodhulpgereedskap hier? Daardie wond bloei altevol baie en ek wil nie graag hê jy moet flouval nie.”

Sy stribbel nog halfhartig teë, maar sy haal darem ‘n ystertrommel vol verbande en salfies en goete uit en gaan sit by die kombuistafel sodat Kurt na haar arm kan kyk.

Die wond is nie diep nie. Kurt ontsmet dit, smeer antibiotiese salf aan en draai dit toe stewig met ‘n verband vas.

Toe vat hy Amilie se pistool en stap die hele huis en werf deur. Koes-koes en versigtig, soos hy opgelei is om te doen.

Toe hy terugkom in die kombuis, nadat hy die deure gesluit het, het Amilie koffie gemaak. Sy het ook nog ‘n pistool en drie dosies vol ammunisie uitgehaal en op die kombuistafel neergesit.

Kurt fluit waarderend deur sy tande.

“So, vertel my die storie, mevrou Joubert,” sê hy toe hulle elk met ‘n koppie koffie langs die tafel sit.

Sy vertel toe. ‘n Lang storie, soos heelwat wat Kurt al in sy lewe gehoor het. Van jaloesie en gierigheid en ‘n jong boer en sy vrou wat hulle bes doen om ‘n bestaan te maak. Van geweld en onderduimsheid en vrees. En van vasberadenheid en dappere vertroue op God.

“Ja-nee,” sê hy toe haar moeë stem stilraak. “Toe ek daai Cruiser-bakkie sien, toe sê ek vir myself: Kurt, hier’ie is boggers as jy in jou lewe ooit boggers gesien het.”

Amilie glimlag, maar toe versober haar gesig.

“Is jy seker jy wil nie die water vat en loop nie?”

Kurt snork. Hy haal die Glock uit sy lyfband, glip die magasyn uit en begin dit laai.

 

Dit begin skemer raak toe Bruines en Nina op die werf aan die blaf gaan.

Kurt is onmiddellik wakker, waar hy in die koel voorhuis hom op ‘n bank uitgestrek het. Net vir ‘n oomblik, het hy nog gedink.

Sy horlose wys 1755h.

Met die Sig Sauer wat aan Amilie Joubert se man behoort het in sy hand – sy het die klein Glock gevat – beweeg hy versigtig na die voorste venster.

“Dis hulle,” sê Amilie gedemp agter hom.

Die Cruiser met die stukkende ruit is dwars oor die inrypad getrek. Dis leeg.

“Bly hier,” sê Kurt. “Ek gaan vir ‘n wandeling.”

Die aandlug is koel op sy gesig. Hy het sy stewels uitgetrek toe hy gaan lê het, en hy is nou dankbaar daarvoor. Dit laat hom toe om geruisloos oor die stowwerige werf te gaan, om die skuur na die Cruiser toe.

Dit is regtig leeg, en hy tref gou die voorsorg om die twee agterste bande met sy jagmes stukkend te sny.

Agter die skuur loop hy hom in moeilikheid vas. Hy is styf teen die hoek van die gebou, besig om met sy pistoolloop en sy een oog die werf te bespied toe iets kouds en ronds agter teen sy nek gedruk word.

“Drop the gun,” sê ‘n stem met ‘n sterk Afrikaanse aksent.

Kurt weet nie hoekom die ou met hom Engels praat nie, en hy gee ook eerlikwaar nie om nie.

“Sorry, man,” sê hy. “I don’t want no trouble.”

Uit die hoek van sy oog kan hy ‘n gladgeskeerde gesig en ‘n kakiehemp sien. Die man ruik na brandewyn.

“Drop the gun.”

Toe vlieg Kurt om. Hy gryp en hou die dik arm met die pistool, terwyl hy met sy eie pistool die man in die gesig slaan. Die eerste hou breek die man se neus, die tweede kloof sy oogbank. Hy stoei vloek-vloek om weg te kom, maar Kurt hou en slaan en stoot totdat die logge liggaam neerslaan en bly lê.

“Hêi!”

Daar is twee jong kêrels in denimbroeke wat om die skuur se hoek op hom afgestorm kom. ‘n Skoot klap langs hom in die stof vas.

Kurt duik instinktief weg, skuur op een skouer om die hoek en spring op sy voete.

Hy’t nie besef dat daar meer as twee ouens gaan wees nie. Nie dat hy omgee nie. The more the merrier, het sy broer altyd gesê.

Met ‘n ontploffing van energie nael hy na die hoek van die skuur. Hy glip verby die Hilux se neus, ruk die sinkdeure op ‘n skreef oop.

Dis warm en drukkend binne die skuur. Dit ruik na kragvoer.

Oomblikke later, toe ‘n natgeswete gesig onder ‘n John Deere-pet by die skuur inloer sit Kurt gemaklik op die solder.

Die knaap kom oogknippend deur die skreef binne, sy oë nog nie gewoond aan die diep skemer nie.

Kurt skiet hom in die pistoolhand.

Sy kreet van pyn bring nog hardlopende voetstappe na die skuur se deur. Die tweede jongman het nie ‘n pistool nie, sien Kurt toe hy ingehardloop kom en oor sy makker buk . Hy steek met ‘n gemeensame glimlaggie die Sig agter in sy belt.

“Jorrie, dude, is jy ok?”

Kurt bedwing die begeerte om ‘hasta la vista, baby!’ te skree toe hy van die solder afduik. Die gewonde man sien hom, maar sy benoude uitroep is te laat om sy maat te waarsku.

Kurt gryp die jong man sommer so in die val om die lyf. Hulle tref saam die strooi.

‘n Wilde hou tref hom teen die kant van die kop, maar Kurt plant sy voorarm op die man se ken, druk hom vas en slaan hom tot hy slap word.

Daar is strooi agter in sy hemp toe hy op sy voete rol. Die ander jong man sit gebukkend, sy bebloede arm teen sy bors vasgeklem. Hy gee Kurt ‘n benoude kyk.

“Chill jy maar net hier,” sê Kurt vir hom. “Anders kry jy dalk seer.”

Hy tel die ou se pistool uit die strooi op en glip by die skuurdeur uit. As ekstra voorsorg sleep hy die deure toe en sluit die groot slot om die grendel vas.

‘n Oomblik staan Kurt daar in die warm skemer, sy ore gespits. Dit is stil op die werf.

Toe hoor hy agter die huis skote klap.

Kurt hardloop.

Amilie Joubert het nie meer sy hulp nodig toe hy die stoep bereik nie. Daar is ‘n koeëlgat langs haar kop in die muur, en sy staan uitdrukkingloos na die man met die geweer se beweginglose liggaam en kyk.

Toe sy opkyk vat die uitgeputte kyk in haar oë aan hom. Iewers, diep binne hom waar ou herinneringe van gepleegde geweld en ‘n oorlog se bloedskuld weggebêre is.

“Ek is jammer.”

Sy leun krom teen die muur, die trane weer twee blink strepe oor haar wange.

“Ek kon nie anders nie. God vergewe my, maar ek kon nie anders nie.”

 

Later, toe die donker werf vol bakkies en blou polisieligte is, gaan Kurt na die kombuis. Oppad stop hy in die sitkamer om sy stewels aan te trek. Hy vat een van die plastiekwaterflesse en los Pieter Joubert se Sig op die tafel.

Toe glip hy in die koel donkerte by die agterdeur uit.

In die sterlig is die pad terug na Sutherland ‘n lang, lokkende baan. Hy dink aan Amilie Joubert terwyl hy stap. Sy sal regkom, reken hy. Sy sal haar nie laat onderkry nie.

Hy dink ook dat hy op Sutherland ‘n saamrygeleentheid sal moet kry. Hy wou rêrig graag Fraserburg toe gegaan het, maar daar sal ander kanse wees.

Die polisie sal stellig vrae wil vrae oor die man met die brandewynasem se gebreekte neus en die twee verongelukte outjies in die skuur.

En Kurt Landsberg, oor die algemeen, is nie ‘n ou wat graag vrae beantwoord nie.

Lewer kommentaar