Doodloopstraat Hoofstuk Een Margaret Terblanche Antoine de Villiers Kortverhaal Spanning

Die Kroeggeveg (Doodloopstraat 1)

JP poets daardie aand die kroegtoonbank oor en oor. Nie dat dit besonder vuil is nie. Dit is net ‘n uitstekende verskoning om die vreemdeling in die hoek dop te hou.

Hy is hulle enigste klant, al is dit somervakansie en hoogseisoen vir Bergtoerisme. Sedert Pa se dood is dit asof die Obertass se vloei van kliënte aan’t opdroog is. Dit kan ook wees sedert Tendos dorp toe gekom het, maar JP wil nie vanaand daaraan dink nie.

Ma is ook nie naby om hom te betig omdat hy ‘n kliënt aangaap nie. Vee-vee vorder hy dus heen en weer oor die toonbank, heeltyd met ‘n halwe oog op die vreemdeling.

Tweemaal het die man al aandete bestel. Vullende, tradisionele Nacubi kookkos. Rys, vleis, aartappels, gebraaide boontjies met stukkies spek, soetwortels en brood. Dit alles het die man teen ‘n vreeswekkende tempo in sy maer liggaam ingewerk.

JP, om die minste te sê, is beïndruk.

Die ou het sonsak die kroeg binnegestap. Sedertdien het JP al genoeg tyd gehad om hom deeglik te bestudeer.

Die eerste ding wat hom opgeval het, is dat die man kort is. In die oortreffende trap. Skaars kop en skouers langer as JP self. Sommer ‘n kannetjie.

En die tweede ding wat JP opgeval het, is dat hierdie ‘n ou is wat nie lengte nodig het om hom te laat geld nie. Ten spyte van sy kort postuur beweeg sy gespierde liggaam met ‘n vreemde soort verborge energie, soos ‘n reisiesperd in ‘n weiveld.

Daarby het hy die vreeswekkendste paar oë wat JP in ‘n lang tyd gesien het. Groen oë, koud en diep onder goue wenkbroue. Harde oë, soos rots wat deur see en wind en storm getoets en nie te lig bevind is nie.

Die vreemdeling het nie veel gesê nie. Net sy kos bestel en gaan sit. In die hoek, waar hy albei deure en die groot venster na die straat kan sien.

Dis toe dat die derde ding JP opgeval het.

Die kort mannetjie is moeg. Die oomblik toe hy sit skyn die vreemde energie te verdwyn, en hy smelt. Sy gespierde skouers word krom, sy ooglede hang, sy hande is skielik bewerig. Selfs die vurige hardheid van sy oë flikker en sterf.

JP het vir hom koffie aangedra. Sterk en geurig met ‘n gevaarlike klomp suiker en kondensmelk ingeroer. Vir Ma is dit die enigste raad, as sy moeg en moedeloos saans by die kombuistafel sit. Maar vier koppies later is die klein vreemdeling nog steeds aan die flikker. Kop-op-die-vuis sit hy aan beker nommer vier en slurp.

JP asem op ‘n denkbeeldige kol op die toonbank en vryf ernstig met sy vadoek daaroor.

Gewoonlik sou hy al hierdie tyd met sy neus in een van die boeke wat hy agter die toonbank gebêre gewees het. Maar vanaand pla die vreemdeling hom.

Te oordeel aan sy denimbroek en blokkieshemp, deurgewas tot ‘n donker mengelmoes van kleure, en sy wolgevoerde baadjie van sterk kakieseil kon hy ‘n houtkapper gewees het. Maar JP het al baie houtkappers en bosbouers in sy dertien jaar gesien. Hierdie man is baie dinge, maar hy is nie ‘n houtkapper nie. Hulle is, in JP se ondervinding, luidrugtig en sweterig en mens op ‘n manier wat hierdie man dit byna nie is nie.

Buite hoor JP die gesnor van motorfietse. Hy hoop eers sy ore bedrieg hom. Oomblikke later speel die hoofligte oor die Obertass se stoep. Die brul van die Harley Davidsons is ‘n oomblik lank oorverdowend, voordat die enjins gesny word.

JP sit sy vadoek versigtig agter die toonbank neer.

Luide stemme klink op die stoep, die gestommel van swaar stewels meng met die gerinkel van kettings. ‘N Oomblik voordat die swaaideure oopgestamp word tref die reuk van sweet en leer en stink Kubaanse sigare JP se neus.

Daar is vier van hulle. Groot, lelike motorfietsryers met Manuel Tendos se vlamtekens op hulle lapelle.

JP lek nié oor sy droë lippe nie. Al wil hy hoe graag. Hy waag tog ‘n vinnige blik na die hoektafel, waar die vreemdeling nog roerloos sit. Hy lig nie sy kop nie, maar JP is amper seker hy sien hoe daardie harde groen oë die motorfietsryers ‘n oomblik lank deurkyk.

Tendos se manne sien nie die vreemdeling raak nie. Hulle ruik drank, reken JP, soos perde wat water ruik.

“Naand, bulkalf,” sê die regterkantste een.

Hulle hang oor die toonbank, arms soos hamme sy hele mooi blink toonbank vol.

“Ja, naand,” sê JP nors.

‘N Groot vinger tik hom teen die bors. Hy kyk op, en in ‘n onvriendelike paar bruin oë vas.

“Mooi speel, boetie.”

Dis Bull Labuschagne, onthou JP. Eenkeer, nie lank na Tendos dorp toe gekom het nie, het Bull in ‘n vegtery by die Drif betrokke geraak. Hy het ‘n trokdrywer kaalhande nekomgedraai.

JP glimag sieklik.

“Wat kan ek vir meneer aanbied?”

“Dis beter.” Bull grynslag. “Vier biere. Grotes. En opskud!”

JP skud op, sy hande bewerig op die glase. Hulle draai na mekaar toe, en die een op regs vertel ‘n vulgere grap wat sy vriende laat skater.

Toe JP die glase na hulle toe stoot, vat hulle en sluk sonder om weer na hom te kyk.

Hy vat maar weer sy vadoek en begin iesegrimmig in die verste hoek van die toonbank poets.

In die hoek sit die vreemdeling nog. Roerloos, asof hy droom.

Die motorfietsryers se bombastiese stemme, en sy eie vreesagtige gehoorsaamheid, is ‘n kooltjie vuur agter in JP se nek. Hy hoop met sy hele hart dat hulle nie die klein vreemdelingetjie sal raaksien nie. Want die klein vreemdeling, weet JP, sal nie weet dat ‘n mens nie teenstand bied teen Manuel Tendos se manne en met jou lewe daarvan afkom nie.

Na die eerste rondte biere spring JP om hulle weer vol te kry. Solank die ouens drink is daar nie veel breinspasie om ander dinge te doen nie, reken hy.

Maar Bull sien hom tog raak, terwyl hy aan sy tweede glas bier slurp.  Sy varkogies blink skielik, sy mond in ‘n geïnteresserde grynslag vertrek.

“Wel, wel! Kêrels, kyk net wat het die kat vir ons ingedra. ‘N Vreemdeling!”

“Ons sal hom moet welkom heet, hê Bull?” Dit is die motorfietsryer op linkerhand, ‘n bruingebrande knaap met ‘n ongeskikte tatoeërmerk op sy bisep.

“Natuurlik, ou Rennie, natuurlik! Dis nou maar wors, soos my tant Bertha sou gesê het.”

Hulle praat hard, maar die vreemdeling steur hom nie aan hulle nie.

Bull en sy trawante deel ‘n betekenisvolle kyk. Toe staan hulle nader.

Die een heel op links, nie ou Rennie nie, doof luiweg sy sigaar uit voordat hy agter sy vriende aangaan. So in die stap, sien JP, glip hy ‘n vuisyster uit sy sak.

JP wonder of hy dit die oomblik is wat hy vir Ma moet gaan roep. Maar, besef hy, teen die tyd wat hy die derde verdieping bereik het gaan die situasie in die kroeg al lankal onherstelbaar wees. Hy bly dus maar vasgenael staan en bid.

Die motorfietsryers kom ‘n entjie van die tafel tot stilstand. Die vreemdeling roer nie.

“Naand, oupa,” sê Bull. Sy trawante brul van die lag.

En, ‘n oomblik later.

“Ek sê! Naand, oupa!”

Daar heers ‘n oomblik lank stilte. JP hoor hoe die wind ‘n eiketak teen die Obertass se gewel skaaf.

Bull treë nader. Stut sy heup teen die tafeltjie.

“Is jy doof, oupa?”

Uiteindelik kyk die vreemdeling op. Moeisaam, asof dit energie verg wat hy nie het nie.

Hy beskou Bull ‘n rukkie. Toe laat sak hy weer sy kop met ‘n uitgeputte sug.

‘N Senuweeagtige krieweling spoel deur die motorfietsryers.

Bull grynslag.

Daar is ‘n sisgeluid toe hy sy halfgerookte sigaar in die vreemdeling se koffie dooddruk.

JP hou sy asem op.

Die vreemdling rek sy nek effens om in die koppie te loer.

Toe skud hy sy kop stadig.

“Jy weet,” sê hy saggies, sy stem effens krakerig. “Ek wou daardie goed nog gedrink het. Gruwelike lekker koffie gewees.”

Hy vou sy hande op die tafel voor hom. Kyk die lang motorfietsryers ernstig aan.

“As jy môreaand kom…ek sal jou met graagte dan slaan. Maar vanaand is ek bietjie moeg.”

‘N Ongelowig lag bars verby Bull se lippe.

“Jy? My slaan? Hoor julle hierdie malman, kêrels?

Sy vuis dawer op die tafeltjie. JP wip van die skrik, die bloed kloppend in sy ore. Hier kom dit, dink hy, hier flippen kom dit.

“Ek weet nie wie de hel jy dink jy is nie, oupa, maar hierdie is my en my manne se dorp. En ons gaan jou breek.”

Die vreemdeling se oë is nog steeds op hom. Hy lyk half geïnteresseerd, asof hy ‘n uitdagende raaisel probeer oplos.

“Kyk, my vriend, ek is maar ‘n eenvoudige man.” Hy glimlag skeef. “As jy so aanhou om my oupa te noem verloor ek straks nou-nou kop. Neem jou wettiglik aan en als.”

Bull grom. Hy gryp die beker en gooi die laaste koffie in die vreemdeling se gesig.

Dit is so stil in die kroeg, JP kan die koffie van die vreemdeling se stoppelbaard hoor afdrup.

Dan knip die klein mannetjie ‘n paar maal sy oë.

“Dankie,” sê hy plesierig.

Hy verlaat sy stoel met ‘n skuins sprong. Skop die tafeltjie uit die pad en gryp die oorkantste stoel. Die stoelpote vlieg elk in sy eie rigting toe hy Bull se voete onder hom uitvee.

Die motorfietsryer val hard. JP kan die vloer tot by hom voel sidder.

Vinnig vervat die vreemdeling sy greep op die stoel. Hy slaan ‘n paar vinnige houe teen die groot man se skedel.

Die ander motorfietsers beweeg traag, onkant gevang deur hulle leier se ondergang.

En die vreemdeling gee hulle nie kans om van die skok te herstel nie.

Hy lyk skielik nie meer moeg nie. Energie verlig sy hele liggaam, en hy beweeg soos ‘n miniatuur-orkaantjie tussen die motorfietsryers in.

Sy uitgestrekte arm, met die klipharde hiel van sy hand aan die punt daarvan, tref die ou met die vuisyster tussen die oë. Hy beweeg verder, kyk nie eers hoe die motorfietsryer dom in ‘n sirkel stap en toe neerslaan nie.

Die regterkantste ou gooi ‘n wilde hou, maar hy kry ‘n skop tussen die bene vir sy moeite. Toe hy vooroor vou slaan die vreemdeling hom ‘n haakhou oor die gesig. JP hoor been kraak.

Al wie oorbly is ou Rennie, met sy ongeskikte tatoeërmerk. Hy kry dit nogal reg om die kort mannetjie om die lyf beet te kry. Daar is ‘n warreling van energie, ‘n verrasde snork, en toe val ou Rennie ook en bly lê.

Stilte heers weer in die Obertass se kroeg. Die vreemdeling treë agteruit, sy hande beskermend voor sy gesig. Hy hyg na asem.

JP weet nie of hy ‘n geluid gemaak nie, maar die vreemdeling gluur skeilik vir hom.

Sy gesig is grys, sien JP, iets radeloos in sy oë. Vir die eerste keer merk hy op dat die man bloei. Van die tweede knoop, al die pad tot by sy gordel, is sy blokkieshemp nat en donker van die bloed.

Die kort mannetjie gee nog ‘n skuifelende treë. Sy oë rek. Toe tref hy die grond met ‘n nat, afskuwelike plofgeluid.

“Maaaaaaa!” gil JP.

Word volgende maand vervolg.

Lewer kommentaar