de villiers kajuitraad met 'n karakter

Kajuitraad met ‘n karakter – Antoine de Villiers

Dis vandag weer tyd om kajuitraad te hou met ‘n karakter. *doen ‘n oorlogsdans van opgewondenheid*

De Villiers is die hoofkarakter in my nuwe kortverhaal Doodloopstraat, wat DV volgende week op my blog begin.

Begin? Ja, dis reg! Dit gaan weer ‘n vervolgverhaal wees, soos wat ek verlede jaar met Cavadd gemaak het. Maak julle dus reg vir ‘n hele paar maande van ‘n lekker, spannende storie.

Wie’s de Villiers?

Soos reeds vermeld is Antoine de Villiers die hoofkarakter in Doodloopstraat. Twee dinge let mens dadelik van hom op: sy lengte en sy oë. Hy is baie kort, buitengewoon eintlik, en gespierd. Sy oë is van ‘n besonderse ryk groen kleur, en hulle is by uitstek daarvoor gemaak om mense mee aan te gluur totdat hulle verskrik terugstaan. Hulle verleen hulle egter net so goed daartoe om vriendelik te vonkel en ‘n mens op jou gemak te laat voel.

De Villiers dra in hierdie storie ‘n uitgewaste denimbroek, ‘n blokkieshemp wat jare gelede sy vervaldatum bereik het, ‘n kakieseilbaadjie (een van daai soort wat met wolletjies uitgevoer is) en die bloed van sy vyande. Soms sy eie bloed ook. Die ou beland kort-kort in ‘n geveg.

*steek my hande onskuldig in my sakke*

Die onderhoud

Die skrywer: Oy, hallo, de Villiers!

Antoine de Villiers: Middag, Terblanche.

DS: Hoe staan die lewe, ou kat?

AdV: Hy staan blykbaar nog. Effens aan die flou kant, maar hy staan.

DS: Nou, dis gaaf. Sê my bietjie, wat het gebeur voordat jy op Eggokop beland het? Ek dink nie ons het al ooit mooi daardie stukkie van die storie uitgepluis nie.

AdV (glimlag gelykmatig): Niks wat jy kan bewys nie, Terblanche. Maar, in alle erns, ek weet self nie presies wat gebeur het nie. Ek onthou dat ek oor die grens gekom het, uit Vircinge. Maar verder is alles ‘n dwaal totdat ek ‘n paar dae later in die hotel wakkergeword het.

DS (klik spytig met haar tong): Dis lastig! Maar jy het heelwat bloed verloor, so dit is in ‘n mate te verstane. Goed, volgende vraag. Wat is die voordele en nadele daarvan om kort te wees?

AdV: Dis darem ‘n makliker vraag. Die voordele…wel, ‘n mens kan maklik op plekke wegkruip waar groter ouens nie kan inkom nie. En –

DS: Skies dat ek onderbreek. Watse plekke?

AdV: Ag, onder banke en agter pilare en bo-op hangkaste en in ‘n klein spekboompie. En agter ‘n vuurhoutjie natuurlik (knipoog). Groter ouens kan seker ook daar wegkruip, maar nie so effektief nie.

DS: Haha, natuurlik. Maar jy was nog besig met die voordele.

AdV: Mense onderskat jou maklik, so jy het altyd die verrassingselement aan jou kant. Jy kry selde entevrees. Jy hoef nooit daaroor te bekommer of jy dalk jou kop gaan stamp nie. En jy is op die ideale plek om ouens op ‘n ongemaklike plek te bl…te slaan. En mens sit natuurlik altyd gemaklik in ‘n vliegtuig of ‘n bus.

DS: Klink fantasties. En die nadele?

AdV: Wel, mense is geneig om met jou grap te maak. Maar dit is ook nie werklik ‘n nadeel nie. My doel is altyd om ‘n glimlag na mense se gesigte te bring.

DS: Yeah, right.

AdV (verontwaardig): Komaan, jy kan nie sê dat ek nie vriendelik is nie! Maar, in elk geval. Nog ‘n nadeel is dat jy twee keer soveel energie moet gebruik as ‘n lang ou. Vir elkeen van hulle treë moet ek twee gee. Dit raak uitputtend, veral in ‘n geveg. Nog ‘n groot nadeel is natuurlik kaste. Weet jy hoeveel keer moes ek al op kombuiskaste of laboratoriumtoonbanke rondskuifel op soek na iets?

DS: Dis fantasties. Ek sal ‘n toneel moet insit waar jy op ‘n kombuiskas klim om iets af te haal.

AdV: Ja, ja, dryf maar die spot met die dwerg.

DS: Maar dit sal ‘n glimlag na die mense se gesigte bring!

AdV (mompel iets onhoorbaars)

DS: Ek kan altyd maak dat Depper dit vir jou moet afhaal…

AdV: Kyk, as jy daardie dekselse vent insleep bedank ek sommer!

DS: Toemaar, ek weet waar jy bly.

AdV: En ek weet waar jy bly, Terblanche.

DS: Ayy, bring net koekies saam as jy kom. Maar ons tyd is op, ou Willie. Dankie dat jy kom gesels het!

AdV: Nou, dit was ‘n plesier. Sien jou later?

DS: Jip, sien jou later. Probeer solank onthou wat in hoofstuk drie gebeur het. Cheers!

 

*dans op een been rond*

Opwindende tye, outjies! Wag net tot julle volgende week vir ou de Villiers in volle glorie sien…

 

Lekker dag!

margaret autograph

Lewer kommentaar