Danda

Boekresensie: Danda

Danda se pa kort hulp.

As dit nie was dat Danda die brief onder tant Maria se kopkussing uit gaan gaps het nie, dan het hy ook van die hele gemors niks geweet nie. Hulle sê hom mos nooit niks nie.

Hulle wil Danda se pa se skip vat. Sommer vat, omdat hy nie die geld klaar betaal kry nie.

Danda beplan al lankal om pad te gee daar uit die boendoe na sy pa toe. Weg van tant Maria-hulle, wat hom maar altyd stief behandel. Daarvoor het hy en Ou-Faans die bamboesvlot by die rivier aanmekaargetimmer. En geld het Danda ook. Die sakgeld wat sy pa met elke brief, hoe swaar dit ook mag gaan, vir hom saamstuur. Tant Maria noem dit nou wel ‘losies’ en bêre dit eenkant in ‘n bottel, maar strenggesproke is dit Danda se geld.

En so sit Danda en sy vier troue troeteldiere dus af, see toe. Daar is Vlooi, die brak, en Ratel, wat soos sy naam aandui ‘n kwaaikop ratel is, en Kiki, die bekkige kraai, en klein Sindo, ‘n bewerige nagapie.

Hulle het agt dae om die hawe te bereik, en om sy pa se skip te red.

Natuurlik, soos dit maar gaan, loop dinge gou-gou skeef. Skipbreuk, proviand wat verlore raak… en meeste van alles, Sarel Vetvoet. Sarel Vetvoet is sommer ‘n laspos. Maar hy’s ‘n gevaarlike laspos, en op die ou end is dit teen hom wat Danda moet kragte meet om die geld by sy pa uit te kry.

Danda boekresensie aanhaling Chris Barnard

Danda is ‘n boek wat nog altyd sy plek vierkantig volstaan op my rakkie van gunsteling jeugboeke. Die storielyn is oortuigend, al sou ‘n mens dit effens simplisties kon noem. Barnard trek ‘n mens medoeënloos in by Danda se tog om sy pa te gaan help, en die fyn karakterisering sorg dat ‘n mens gou-gou net so hard soos Danda hoop dat hy tog betyds sal wees. Elke terugslag en gevaarlike oomblik bring ‘n mens na die punt van jou stoel.

Die diere sorg natuurlik vir baie prettige, en ook spannende, oomblikke. As dit nie Vlooi is wat op die verkeerde tyd ‘n seekoei wil pak en byna die hele saak bedinges nie, dan is dit Ratel wat skielik dodelik siek word. En Kiki is natuurlik altyd daar om die laaste woord in te kry!

Sarel Vetvoet is ‘n man wat ‘n hele paragraaf vir homself verdien. Hierdie vet mannetjie is met die eerste oogopslag ‘n grootprater en ‘n bietjie van ‘n idioot. Maar gou-gou vind ‘n mens uit dat daar agter sy lanterfanter voorkoms ‘n ratse en geslepe brein skuil. Vetvoet is ‘n man sonder ‘n verlede, as mens sy stories van grootwildjag-en-krokodille-met-sy-kaal-hande-versuip buite rekening laat. Deur die hele boek word hy vir die rol van skurk gereedgemaak, en menigemaal is mens lus om hom in die rivier te versuip as hy weer vir Danda begin boelie. Maar die einde van die boek hou tog ‘n verrassende stukkie karakterontwikkeling vir Vetvoet in.

Oor die algemeen is Danda ‘n goeie, stewige avontuurverhaal. Alhoewel hy nie meeding vir die plek as my heel gunsteling jeugboek, soos sy opvolg Danda op Oudeur, nie het ek hom nogtans baie geniet!

Lewer kommentaar