Afrikaans Nuus

Hallo, 2018!

Voorspoedige nuwejaar, vriende!

Ek bid dat 2018 vir julle almal ‘n mooi, uitdagende, vreugdevolle jaar sal wees. So op die eerste dag van ‘n nuwe jaar voel ek altyd ‘n bietjie senuweeagtig…dit voel so asof ‘n mens met ‘n stuk wit papier in jou hande staan en dat dit die maklikste ding in die wêreld is om dit te vermors. Nou, ek hoop julle almal teken net mooi goed op julle papiere!

So van teken gepraat…

Ek het hierdie jaar begin met ‘n ‘bullet journal’

Punteplan, lysiedagboek, kunsdagboek…die ding het nie ‘n behoorlike Afrikaanse naam nie! Verskoon my dus as ek maar van ‘n bullet journal praat.

‘n Bullet journal is die prettigste ding wat ek in ‘n lang tyd op die lyf geloop het. Doen jouself gerus ‘n guns en Google (of Pinterest-soek!) ‘n bietjie na ‘bullet journal inspiration’. Dit is basies ‘n tuisgemaakte dagboek, waarin mens self alles teken wat jy wil hê. Ek moet erken, die opstel deel vat ‘n hele ruk. Maar dit is absoluut die moeite werd! Mens kan enigiets insit wat jy nodig het, en dit so mooi versier soos wat jy wil. Myne is effens minimalisties, maar ek hou daarvan.

Nou, ‘n lysiedagboek is ook die perfekte plek om doelstellings vir die nuwe jaar in neer te pen.

 

My skryfdoelstellings

Ek gaan julle ouens nie verveel met my hele lys doelstellings nie. Dit neem bykans ‘n hele bladsy in my lysiedagboek op, en dit is baie gedetailleerd. Ek noem dus net ‘n paar.

Ek wil Die Troue Kroon klaarskryf

As jy nog nie na my blad oor my stories gaan kyk het nie, roer jou riete. Vanjaar wil ek baie graag Revina se storie klaarskryf en, as die Here wil, ook na publikasie begin kyk. Voor ek egter kan begin skryf moet ek eers die buitelyn ordentelik klaarmaak. Dis harde werk, maar ek hoop dit sal die moeite werd wees.

Ek wil graag my grammatika opknap

Sal jy geskok wees om te hoor dat ek in my hele skoolloopbaan nooit ‘n taalhandboek deurgewerk het nie? Taal is vir my ‘n baie natuurlike ding, en op my manier is ek goed daarmee. Moet my egter nie vra om ‘n sin te ontleed of die verskillende soorte woorde op te noem of daardie klas van ding nie. Ek hardloop sommer weg.

Maar, vir ‘n skrywer is dit natuurlik nie ‘n goeie ding nie. Ek wil dus graag hierdie jaar die tegniese deel van my geliefde tale stewig vasvat en onder die knie kry.

Ek wil my Geheime Projek op die been kry

My geheime projek is…nou…’n geheime projek. Wees in die komende weke gerus op die uitkyk vir meer nuus daaroor. Ek is rasend van opgewondenheid!

 

My leesdoelstellings

Hierdie jaar het ek myself die taamlike moeilike doel gestel om sestig boeke te lees. Sestig boeke, let wel, wat ek nog nie voorheen gelees het nie. Ek moet erken dat ek iemand is wat daarvan hou om boeke oor en oor en oor en oor en oor (en oor en oor) te lees as ek baie van hulle hou. Dit gaan dus nie alte maklik wees om my tyd liewer aan nuwe boeke as aan ou gunstelinge te bestee nie.

Boekresensies

Ek wil ook hierdie jaar ‘n nuwe ding hier op Inkswaard probeer.

Ek.

Gaan.

Boekresensies.

Skryf.

As jy wonder hoekom ek so dramaties daaroor is…ek het nog nooit voorheen in my lewe ‘n boekresensie geskryf nie. Ek is darem seker dit gaan prettig wees.

Wees gerus volgende week op die uitkyk vir ‘n resensie van die Danda-boeke deur Chris Barnard (en ‘n resensie van Caddie Woodlawn deur Carol Ryrie Brink op die Engelse kant van my blog).

 

Wat is jou doelstellings vir 2018? Waaraan wil jy werk? Praat met my hier onder in die kommentaarboksie!

 

In Christus,

margaret autograph

Lewer kommentaar