Oktober Afsluiting

reformasiedag

Geseënde Reformasiedag, vriende!

Vandag, vyfhonderd jaar gelede het ‘n ou met die naam Luther met ‘n hamer besig geraak en die Protestantse Reformasie begin. Hy’t sy vyf-en-negentig stellinge wat die Roomse leer in twyfel getrek het teen die kerkdeur van Wittenberg vasgespyker. Dit was ‘n klein vlammetjie wat ‘n groot brand aangesteek het. Honderde duisende mense het hulle lewens verloor in die stryd om geloofsvryheid. Vandag herdenk ons hulle opoffering, en die Here se groot genade dat Hy hulle versterk en bewaar het. Deur sy genade het Hy ook hulle leer en nagedagtenis so gebruik dat ons vandag nog saam met hulle kan roep: Sola Scriptura, Sola Gratia, Sola Fide, Solus Christus, Soli Deo Gloria!

Ek weet dat ek grootliks afwesig was van my blog hierdie maand. Dit was ‘n besige tyd! Tussen die doring in my voet, baie skryfwerk en ‘n klomp ander dinge was ek liederlik besig.

Hier is ‘n paar hooftrekke van my maand:

Al het ek taamlik baie geskryf hierdie maand, het ek nie alles klaargekry wat ek wou nie. Toughies. Ten minste het ek feitlik die buitelyn van Die Troue Kroon mee klaargespeel. Byna beteken ek het nog net so halfdosyn kraters in my storielyn waarmee ek ‘n plan moet maak.

Verder het ek omtrent tienduisend woorde vir my werk geskryf. Ek doen inhoudskryfwerk (content writing) vir ouens wat webblaaie bou. Dis taai!

Dan het ek ook ‘n bietjie aan ‘n lekker klein projekkie, Die lang arm van die ongereg, gewerk. Dit is ‘n kortverhaal (of tegnies, ‘n novelle) wat ek beplan om volgende jaar as vervolgverhaal op my blog te sit. Gaan loer gerus hier vir ‘n sinopsis. Dis een van my gunsteling stories en karakters ooit!

Ek ‘n fantastiese skryfkunsboek deur James Scott Bell, genaamd How To Write Dazzling Dialogue, gelees. Dit is baie lekker geskryf, en ek het heelwat gekry om aan te oefen.

Dan het ek ook nog begin met Brothers Karamazov. Die ou Russe darem, né? Dostoevsky is ‘n meestelike skrywer, maar sy karakters is so geweldig vreemd! Hulle is almal skynbaar almal so mal soos hase. Selfs Alyosha, al is hy ‘n skattebol!

Ek het ook nog ‘n boek van John Green probeer lees, maar het kwartpad in dit met rooi ore toegeslaan. Mnr. Green skryf baie goed, maar ek wens net sy karakters wil ophou vloek. Hulle laster dat dit ‘n naarheid is!

Tans is ek besig met The Secret Countess van Eva Ibbotson. Sy is definitief een van my nuwe gunsteling skrywers. Haar gevoelskepping is uitmuntend. Twee van haar ander boeke wat aan te bevele is, is The Dragonfly Pool en The Star of Kazan. Dit is kinderboeke, maar hulle is enige dag so goed en vermaaklik as haar grootmensboeke.

Ek was vir die eerste keer in my lewe by ‘n skrywerswerkswinkel! Die Gautengse SCBWI (ek het vergeet waarvoor dit staan, maar dit is iets met ‘Children’s Books’) het hulle jaarlikse werkswinkel by Sandton Biblioteek gehou. Groot geeste soos Joan Rankin het aanbiedings gedoen, en alhoewel dit eintlik meer op prentjieboekskrywers gemik was het ek dit darem baie geniet. Ek het ook ‘n paar interessante mense ontmoet.

Dan het ons ook weer die laaste week van Oktober ‘n module van die SMTI Biblical Counselling kursus gehad. Hierdie module se naam was “Christian Life Issues” en ons het Pilgrim’s Progress van John Bunyan behandel. Ek het, om eerlik te wees, nog altyd ‘n wye draai om Pilgrim’s Progress geloop. My idee was nog altyd dat dit kort duskant Annalou Marais en Elsabé Steenberg is op die soetsappigheidskaal. Ek was verkeerd! Dit is ‘n kosbare, fantastiese boek. Ek kan nie glo met hoeveel bedrewendheid mnr. Bunyan al die teologiese waarhede in die storie inwerk nie. Ek sien nou baie uit om Pilgrim’s Progress nog verder te gaan bestudeer.

So, nou weet julle wat in my lewe aangegaan het in Oktober. Ek is nuuskierig om te weet wat julle alles aangevang het, en wat julle beplan vir November. Laat weet my bietjie in die kommentare!

 

In Christus,

margaret autograph

 

Lewer kommentaar