‘n Inleiding tot die land van Praida – (Deel I)

Meeste van my stories, asook my huidige storie-in-wording Die Troue Kroon, speel in die fiktiewe land Praida af. Vandag gee ek julle ‘n kykie agter die skerms.

Ek beplan om hierdie so bietjie van ‘n reeksie te maak, miskien so drie of vier plasings, want daar is ‘n hele paar dinge wat ek graag vir julle wil vertel van Praida. Ek is so trots op hierdie landjie asof ek hom self uitgedink het. Wag…ek het! 😉

Wat ek nog vandag gedoen het, is ek het die bladsy oor my stories-in-wording opgedateer. Daar is nou allerhande oulike prente en goete daar. Gaan kyk gerus en sê vir my wat jy dink!

Waar kom die naam Praida vandaan?

Oorspronklik was die land se naam Praeda, wat ‘buit’ beteken in Latyn. Daar was ‘n vae idee dat dit tussen twee groot land was, wat altyd geveg het, en dan watter een ook al wen mag Praeda in besit neem. As’t ware as buit vat. Die twee lande het intussen verdwyn (waarheen sal nugter kan sê) en intussen het Latyn ook een van die spreektale in Praida geword. Omdat ek nie ‘n logiese rede gehad het om die land ‘buit’ te noem nie, het ek maar ‘n bietjie rondgespeel en toe op Praida besluit.

Waar is Praida?

Ek kon self nog nooit presies besluit nie. Op die oomblik is dit iewers in die Atlantiese Osean, in die Noordelike halfrond. Dit is ‘n eiland, wat binne ‘n kring van kleiner, onbegaanbare eilandjies lê. Hierdie eilandjies vorm ‘n kring om die groot eiland wat net op sekere plekke, en ook net op sekere tye van die jaar, deurdring kan word.

Watter soort mense bly in Praida?

Oulike mense, natuurlik.

Maar wag, julle wil dalk ‘n bietjie meer weet… (of julle nou meer wil weet of nie, ek wil meer vertel!)

Die bevolking kan in twee groepe opgedeel word, naamlik die Bergmense en die Seemense.

Die Seemense is ‘n mengelspul van skipbreukelinge wat daar uitgespoel het. Daar vergaan gereeld skepe op die rotskring waarvan ek bo gepraat het, want dit is baie gevaarlik. ‘n Paar hoofgroepe onder die seemense wat uitgeken kan word is Romeine, Wikings, Spanjaarde, Franse en Hollanders. Daar is ‘n beheptheid in Praida met die Romeinse Erfenis, vanweë redes wat ek nie nou oor gaan praat nie. (Ek wil mos nou nie die boeke bederf nie!)

Die ander groep is die Bergmense. Ek plak onder hierdie paragraaf vir julle ‘n kaart in. Ek het probeer om die hele kaart wat ek van die land geteken het af te neem, maar op die oomblik is ek ‘n bietjie bedleênd. Volgende keer!

praida kaart

Die goedjies wat soos jêllietots lyk is veronderstel om die Berg uit te beeld. Ek moet wel nog vir die bergreekse name gee. Tussen die jêllietots sal jy allerhande vreemde name gewaar. Die waarvoor jy op die uitkyk moet wees is Tafu, Wangaven, Cuin, Danfelle en Valdewi. Dit is dan ook die name van die vyf Bergstamme. Daar is nog ‘n sesde stam (en tegnies ‘n sewende een, maar ons praat nie oor hom nie!) genaamd die Vircingeri, maar hulle is nors en bly in hulle eie land vlak langs Praida. Ons sal ‘n bietjie later nog oor hulle gesels.

Die Tafuni

Die Tafuni bly in Tafu, wat in die noordelike hoek van die Berg geleë is.

Hierdie stam is goeie landbouers en hulle is ook die vredeliewendste van die Bergstamme. Die ander stamme erken hulle as die wysemanne en raadgewers van die Berg, en kom vra redelik gereeld raad by hulle.

Hulle stamkleur is donkergroen, wat beteken dat hulle skilde, swaarde en armbande met groen gesteentes versier is. Hulle stamdier is die takbok, en hulle leuse is Wysheid Maak Mag.

Raanu is hulle hoofstad, en hulle opperhoofmanne kom uit die Huis van Sjod.

praida tafuni aesthetic

Die Wangavenni

Die Wangavenni bly in Wangaven, wat in die oostelike deel van die Berg is.

Hulle bly in ‘n gebied wat baie ryk is aan minerale, so hulle is myners. Daar is ook ‘n groot klomp van hulle wat vreeslike goeie smede is. Die bekendste smid onder hulle was Danmut, wat in die Romeinse tydperk gelewe het. Die Wangavenni is oor die algemeen bekend daarvoor dat hulle min praat en baie lag.

Hulle stamkleur is pers. Hulle stamdier is die otter, en hulle leuse is In Staal Is Waarheid.

Canria is hulle hoofstad, en hulle opperhoofmanne kom uit die Huis van Enreni.

praida wangavenni aesthetic

Die Cuinni

Die Cuinni se stamgebied is in Cuin, wat reg in die middel van die Berg geleë is.

Hierdie stam is die troebadoers van die Berg, en hulle beweeg baie meer as die ander Bergstamme rond. Daar is van hulle wat gevestig woon in Cuin, maar elke Cuinni reis ten minste eenmaal in sy lewe reg rondom Praida. Hulle is baie lief om stories te vertel en te sing en te jongleer, veral met vuur. Die ander Bergstamme is effens versigtig vir die Cuinni, omdat hulle altyd bietjie vreemd optree en allerhande inligting tot hulle beskikking het.

Hulle stamkleur is kopergeel. Hulle stamdier is die slang, en hulle leuse is Wees Vuur.

Meridius is hulle hoofdorp, en hulle opperhoofmanne kom uit die Huis van Laarsa.

praida cuinni aesthetic

Die Danfelleri

Die Danfelleri bly, soos julle seker nou al begin vang, en Danfelle, wat in die westelike vleuel van die Berg geleë is.

Hierdie stam is bekend as arendtemmers en telers, en hier sal ek eers ‘n bietjie moet verduidelik. In Praida kom daar reuse Bergarende voor, wat groot genoeg is dat ‘n volgroeide man op hom kan ry. Hulle is gedugte krygstuie, met hulle gevaarlike kloue en snawels. Dit is baie moeilik om een mak te maak, maar na ‘n paar eeue se telery is daar al darem ‘n paar rasse wat minder kwaai is. Die Danfelleri teel hierdie groot voëls. Oor die algemeen is hulle bekend as ‘n wilde en onbesonne klomp, en daar ontstaan gereeld skermutselinge tussen hulle in hulle buurmanne.

Hulle stamkleur is blou en hulle stamdier is die bergarend. Hulle leuse is Vlieg Nooit Vlug.

Shlovpad is hulle hoofstad, en hulle opperhoofmanne kom uit die Huis van Grocsi.

praida danfelleri aes

Die Valdewii

Valdewi is in die suidelike punt van die Berg geleë.

Die Valdewii bly nie uitsluitlik in die Berg nie, maar het ook al ‘n deel van die groot vlakte anderkant die Berg bevolk. Hulle is perdeliefhebbers en telers. Oor die algemeen is hulle bekend as baie eerbaar en ernstig, en hulle weermag is die gevaarlikste van die Bergstamme s’n. Daar het in die Wikingtydperk ‘n magtige held onder hulle opgestaan, genaamd Cerrevergaard, en daar word nou nog heelwat stories oor hom vertel.

Die Valdewii se stamkleur is oranje. Hulle stamdier is die bergluiperd, en hulle leuse is Eerbaarheid En Lojaliteit.

Heshnoc is hulle hoofstad, en hulle opperhoofmanne kom uit die Huis van Montiverna.

praida valdewi

Die stamme is oor die algemeen nie baie vyandiggesind teenoor mekaar nie, en as mens in een stam gebore word kan jy ook oorgaan na ‘n ander een toe. Meeste mense het hier en daar familie tussen al die stamme, en tussen die ouderdomme van veertien en agtien kan die kinders rondtrek tussen die familielede en dan besluit of hulle liewer by ‘n ander stam wil aansluit.

Ek hoop julle het hierdie plasing so baie geniet soos ek!

Doen my asseblief ‘n guns, en skryf vir my wat jy gedink het in die boksie hier onder!

Groete,

margaret autograph

2 kommentare op “‘n Inleiding tot die land van Praida – (Deel I)

Lewer kommentaar