doring in my voet

‘n Doring + bestuurslesse + ‘n flitsverhaal

‘n Doring in die vlees

 

Hoe word ‘n mens ‘n Margaret? Dit is baie eenvoudig.

STAP EEN: Kom aanhoudend simpel goed oor.

Gister, byvoorbeeld, het ek in ‘n doring getrap. So ‘n lekker, vyf sentimeterlange pendoring. Hy’t hier in die sagte vleisies by my voetbrug ingesteek en toe ook summier daarbinne afgebreek toe ek hom probeer uittrek. Soos pendorings maar geneig is om te doen.

Ek het al dikwels dorings in my voete gehad, en hulle ook net so dikwels self daar uitgegrawe.  ‘n Mens kan maar sê ek is ‘n professionele doring-met-speld-uit-voet-haler. Hierdie kalant was egter nie ‘n gewone doring nie. Hy was so diep in dat ek met elke treë kon voel hoe my tone inmekaartrek van pyn.

Ten spyte daarvan dat ons gesin maar bra lugtig is vir dokters (die pendoring geval was die derde keer in my lewe wat ek ons huisdokter besoek het), het ek maar in hierdie geval my moed bymekaargeskraap en gegaan.

Nadat die gawe doktertjie so bietjie in my voet rondgegrawe het (met lokale verdowing, darem) kom sy tot die gevolgtrekking dat die doring ‘n sening raakgesteek het. Die tendons in ‘n ou se voet is taamlik groot, vertel sy, so gelukkig is die tendon waarskynlik nie heeltemal af nie. Net so bietjie geskend.

Sê dit nou vir iemand wat oor twee maande moet balleteksamen dans. Ek moet erken dat ek dalk trane gestort het (jy sal nog agterkom dat ek nie so taai is as wat ek lyk nie).

Die slotsom van die saak is dat ek nou met my voet in die lug sit en blogplasings skryf dat die spoeg spat. Woensdag moet ek ‘n voetdokter sien, en die ou kan seker nie wag om ook met ‘n lem by my arme voet besig te raak nie.

Motorbestuur en ander gevaarlike aktiwiteite

Ek het ook, heel toevallig, gister my heel eerste bestuursles gehad. Dit was nou voordat ek dokter toe is. As die omie wat my vir die les kom oplaai het verraas was dat ek soos Long John Silver by die huis uitgehop kom, het hy dit gelukkig nie laat blyk nie.

Hy was wel verras dat ek ‘n paar keer teen die opdraande met skreeuende bande weggetrek het.

Sien, ek het tot Vrydag nog nooit met ‘n ratkar bestuur nie, aangesien ons kar outomaties is. Verlede week het ‘n vriend van ons gelukkig sy Gholfie (huh? is dit hoe ‘n mens dit spel? want dit lyk uiters vreemd) geleen en ek kon so bietjie leer bestuur voor my eerste bestuursles. ‘n Mens wil mos nou nie soos ‘n pampoen lyk as jy die eerste keer die bestuursskool ontmoet nie.

Met my eerste probeerslag, Vrydag, het ek so twee blokke ver gekom voordat ek in so ‘n mate gevrek het dat my sussie maar verder moes bestuur. Die ouens agter my het gelyk asof hulle dalk geweld wil pleeg.

Vrydagaand het ek dit darem beter reggekry, met baie instruksie van my sussie. Ek het selfs ‘n paar wegtrekke teen die opdraande gedoen. In tweede. Want my lieflike sussie het vergeet (?) om my te herinner om terug te gaan na eerste rat. Maar ek het dit reggekry, al moes ek vet gee dat dit help. Vandaar dus die skreeuende bande in die bestuursles.

Flitsverhaal

Ek is eintlik veronderstel om vandag weer ‘n kajuitraad met ‘n karakter op te sit, maar met die hele petalje van gister het ek egter nie daarby uitgekom om een te skryf nie. Daarom het ek ‘n writing prompt op Pinterest opgesoek en ‘n flitsverhaal geskryf.

 

Saterdagaand. Skuins na agt. Elvira Rispoli sit by tafel nege, teen die westelike muur van die Rose and Nut. Die restaurant is vol vanaand, van mans in aandpakke en vrouens in pêrels en satyn en kelners wat heen-en-weer skarrel met drankies op silwer skinkborde. Op die verhogie agter langs die kroegtoonbank kreun ‘n jazzband. ‘n Klompie paartjies dans giggelend en skuifelend op die rooi tapyt.

Elvira eet hoender en spinasie.

Die verloofring aan haar linkerhand vang elke kort-kort die lig uit die kroonkandelare op. Dit is maar die derde dag wat sy dit dra, en die ligflits laat haar telkens glimlag.

Sy vat ‘n sluk van haar witwyn, druk-druk met haar servet teen haar lippe en leun terug in haar stoel.

Oorkant die vertrek, langs die orkes, is ‘n groep mense by ‘n lang tafel vergader. Seker twintig van hulle, met ‘n plaat kos op silwer skottels voor hulle en ‘n rytjie kelners wat aanhoudend om hulle ronddobber.

Dit is ‘n familiebyeenkoms, dink Elvira, as mens na die ooreenkoms tussen die mans kyk. Die ou man aan die bopunt van die tafel – hulle het almal sy blas vel, lang neus en dik hare. Een of twee van die vrouens ook.

Hulle is vrolik, die groep, vol beweging en heildronke en luide gelag.

Elvira kerf die laaste stukkie vleis van haar hoenderbeentjie af, en skuif haar messegoed netjies reg op haar bord. Sy sal nog ‘n drankie bestel voordat sy Michael by die stasie ontmoet.

Terwyl sy wag dat ‘n kelner weer naby haar verbykom vang iets aan die oorkant van die vertrek haar oog.

Teen die toonbank, vlak by die orkes, leun ‘n meisie in ‘n appelkooskleur rok. Sy is blond en slank en gekultiveerd, maar Elvira is eensklaps doodseker dat dit ‘n pistool is wat sy onder haar pelsjas vashou. Dit was net ‘n kortstondige flits van lamplig op staal, maar onder Elvira se noukeurige blik neem die skadu onder haar jas ‘n dodelike vorm aan.

Die meisie leun oor om as van haar sigaret af te tik, en Elvira sien die spanning in haar smal skouers.

Elvira voel die terugslag van hitte op haar vel ‘n oomblik voor die man langs haar buk. Sy dog eers dat dit die kelner is. ‘n Servet word op haar bord neergegooi, ‘n hand druk haar skouer ‘n oomblik en uit die hoek van haar oog sien sy lang, blas vingers en ‘n swaar silwer ring. Voor sy tot by sy gesig kan vorder gaan hy reeds met lang treë tussen die tafeltjies weg.

‘n Oomblik lank sit Elvira hom verstom en agterna kyk.

Sy rug bly na haar toe, selfs toe hy langs die meisie met die appelkooskleur rok teen die kroegtoonbank gaan leun. ‘n Lang, regop figuur in ‘n donker pak. Hy bestel iets met ‘n wink van sy hand, en leun oor om iets in die meisie met die pistool se oor te fluister.

Elvira steek ‘n versigtige hand uit en vou die servet oop.

In die hoek daarvan is ‘n enkele sin met ‘n swart pen geskryf.

Get out while you still have time.

Elvira vou die servet netjies toe, en druk dit onder haar bord in.

Die meisie in die appelkooskleurrok. Die familiebyeenkoms net ‘n paar treë van haar af, anderkant die wiegende musikante. ‘n Swaar, silwer ring aan ‘n man se hand.

Sy kyk oor haar skouer, na die ander mense by die tafeltjies, en by heelparty van hulle sien sy koppe wat oor ‘n wit servet gebuig is. Ander is reeds oppad deur toe.

Die wat oorbly, sien Elvira na ‘n oomblik, het blas velle en dik hare. Hier en daar ‘n lang neus ook. Uitgebreide familie, miskien, van die gelukkiges by die tafel. Hulle is ‘n kring om die vertrek, soos ‘n strop wat wag om styfgetrek te word.

Die restaurant is eensklaps nie meer besig nie.

Net die gesin by die tafel is nog daar, niksvermoedend.

Elvira klik haar handsak op haar skoot oop. Die kolf van haar dienspistool is koel in haar hand.

Oorkant die vertrek druk die man wat vir haar die servet gegee hy sy sigaret dood. Hy knik vir die meisie in die appelkooskleurige rok.

Toe stap hulle na die gesin by die tafel toe, wat besig is om ‘n heildronk te drink op iemand met die naam Benny.

Die man het ‘n berekeningsfout gemaak, dink Elvira. Daar is nog baie tyd. Sy moet eers halfnege vir Michael by die stasie kry.

Sy haal haar pistool oor.

Lewer kommentaar