VerbeeldingVrydag

VerbeeldingVrydag #1

Toe ek gaan sit om hierdie blogplasing te skryf, besef ek skielik dat ek ‘n groot probleem het. Op Woensdae het ek nou begin om ‘n Writing Prompt Wednesday op die Engelse been van my blog te doen (hierdie week is die week van nuwe dinge op Inkswaard) en my plan is om nou op die Afrikaanse kant elke week ‘n VerbeeldingVrydag te hou. Die vraag is net: WAT IS ‘N WRITING PROMPT IN AFRIKAANS?!

Ek het verskeie dinge probleem. Skryfprikkel? Skryfaanmoediging? Skryfpor? Kreatiewe karnuffeling?

Ek moet erken dat ek raad-op is. Die ou wat vir my ‘n goeie vertaling kan gee kry ‘n suigstokkie!

So vir nou moet julle maar geduldig wees as ek my taal meng en van ‘n writing prompt praat.

Ek gaan vir julle vandag twee stukkies dialoog gee, twee gewone…eh…prompts, ‘n interessante foto om ‘n storie van te skryf, asook ‘n stuk storieagtige musiek.

Hier gaat ons!

 

Dialoogidees

#1

“Ek kry hom nêrens nie.”

“Wat? Nee! Hy het nou-nou nog op die kombuiskas gesit en koejawels eet.”

VerbeeldingVrydag

 

#2

“Wat kan verkeerd gaan?”

“Met ‘n geweldadige dwelmsmous op ons spoor, ‘n koeëlwond in my skouer en die wêreld wat moontlik oor sewe-en-dertig minute gaan opblaas? Niks nie.”

“Ek het ook so gedink.”

“Ek was sarkasties, jou esel!”

VerbeeldingVrydag

 

Teksidees

#1

Skryf ‘n storie waarin ‘n kers, ‘n pienk waterbottel en ‘n seuntjie wat klippe gooi verskyn.

VerbeeldingVrydag

#2

Een aand blaf jou hond jou wakker. Kort daarna hoor jy glas breek. Jy vat die bofbalkolf wat onder jou bed lê en sluip katvoet in die gang af. In die kombuis hoor jy ‘n geskuifel. Jy stoot die deur versigtig op en gewaar…

VerbeeldingVrydag

 

Fotospirasie

Gebruik hierdie foto om ‘n storie, ‘n toneel of ‘n gedig te inspireer.

Writing Prompt
Vanaf Pinterest

 

Inspirerende musiek

As daar een ding is wat my verbeelding gaande maak is dit musiek. Laat hierdie stukkie jou verbeelding ook ontplof? Skryf die dinge wat jy in jou geestesoog sien neer, en maak ‘n storie daarvan. Komaan, daar is nie tyd om te verspeel nie!

 

En dit, is die dinge!

Lewer kommentaar