Rikus Edi

Kajuitraad met ‘n karakter – Rikus Edi

Party van julle sal dalk onthou dat ek begin van die jaar Rikus Edi se storie, Cavadd, as ‘n vervolgverhaal op my blog geplaas het. Ek het probeer om elke week ‘n hoofstuk op te sit, maar dit het meer dikwels uitgewerk op ‘n hoofstuk per maand. En ek het nooit tot by die einde van die storie gekom nie.

Nou, oorspronklik was die idee dat Cavadd gaan bly net soos hy is. Ek het intussen agtergekom dat ek hom graag weer wil nasien, redigeer en ‘n paar praktiese dinge aan die storielyn wil verander. As hy dan behoorlik reggemaak is, beplan ek om hom as ‘n gratis e-boek beskikbaar te stel.

Dit gaan heel waarskynlik ‘n paar maande vat. (‘n HELE paar maande…)

Intussen hou ek solank kajuitraad met die karakters.

Ek het meeste van die ou hoofstukke van Cavadd afgehaal, maar jy kan ‘n lusmakertjie hier gaan lees. Laat weet my asseblief wat jy dink!

 

Wie’s Rikus Edi?

Rikus is die protagonis en held van my kortverhaal, Cavadd. Hy is sestien jaar oud, en hy werk by ‘n skrootwerf in die noorde van Burbekka. Hy het bruin hare, blou oë en ‘n effens benerige gesig. Ek het hom nog nooit in iets anders as ‘n leerbaadjie, ‘n wit t-hemp en ‘n denimbroek gesien nie. Hy het geen familie nie, behalwe vir sy pa wat doof is.

Rikus is ‘n vriendelike siel, alhoewel hy nogal nors voorkom as ‘n mens hom net in die verbygaan sien.

 

Die onderhoud

Die skrywer: Rikus, my vriend! Hoe gaan dit?

Rikus: Same old, same old. Jy weet mos. Hoe gaan dit nog daar?

DS: Aan die gang, dankie! Nou, ek is besig om ‘n paar dinge wat ek nog nooit voorheen aan gedink het nie oor jou storie te probeer uitvind. Laat ons maar sommer met die deur in die huis val. Is daar boeke in Burbekka? Het julle boeke in die huis? Hoeveel lees jy, of het jy al gelees?

R: Daar is boeke, soos seker enige plek in die wêreld maar. Seker net minder. Hulle het so vier jaar gelede die stadsbiblioteek in ‘n Junieopstand afgebrand. Dit is nie iets wat mense vreeslik aan aandag gee nie. Ons het boeke in die huis, meer as meeste mense dink ek. Griebenow het ook ‘n klomp, en hy leen gereeld vir my pa daarvan. Ek lees soms in die aand as ek nie aan die slaap kan raak nie. Die Bybel en gedigte en so aan.

DS: So daar is nie eintlik nuwe boeke wat versprei word of so iets nie?

R: Nee, die drukkerye word maar vir koerante en so aan gebruik. Soos ek sê, mense het nie eintlik kans om aan lees te dink nie.

DS: Ek sien. En ek wonder nou, waar kry Burbekka kos vandaan?

R: Een van die min dinge waaroor die gerries en die leerbaadjies saamstem is dat ons onder geen omstandighede die silo’s wes van die stad moet afbrand nie. Daarin is graan en ander voorrade opgegaar wat volgens berekening ons vir nog so honderd-en-vyftig jaar sal hou. Die ou regering was handige boggers vir organisasie. Verder is daar nog ‘n paar fabrieke waar varsprodukte gekweek word, maar hulle is besig om een vir een tot niet te gaan met die droogte.

DS: Wel, dit is dan daardie geheim opgelos. Volgende vraag, hoe het dit gekom dat jy by Jon begin werk het?

R: Wel, nadat ek uit die bendes uit is, moes ek vanselfsprekend ‘n manier kry om ook bietjie geld te verdien. My pa wou nie gehad het dat ek in ‘n fabriek moes werk nie, en Griebenow het gehoor Jon soek iemand om hom op die skrootwerf te help. Jon is ‘n stewige ou, hy betaal goed en hy mors nie eintlik met ‘n mens nie.

DS: Sies tog, jy lyk so ernstig vandag, ou Rikus. Hier’s vir jou ‘n lukrake vraag. Daar is twee tipes mense in die wêreld. Wat sou jy sê is daardie twee tipes?

R: Dis iets waaraan ek nogal dink, weet jy? Ek dink daar is drie tipes mense. Die wat kwaad met kwaad vergeld, en die wat kwaad met goed vergeld, en die wat goed met kwaad vergeld. Meeste mense, skynbaar, val ongelukkig in die eerste of die derde katogorie.

DS: Dit was miskien bedoel om ‘n effens grappige vraag te wees, maar dankie vir daar insiggewende antwoord in elk geval.

R (lag so bietjie): Ek het vandag so bietjie van ‘n swart hond op my skouer, ja.

DS: Ek sien so. Die mense sal dink ek vertel leuens as ek sê jy’s ‘n vriendelike ou!

R: Komaan! Ek was baie vriendelik en beleefd. ‘n Mens hoef mos nie heeltyd grap te maak om vriendelik te wees nie.

DS: Nou, jy het reg. Ek het nie nou nog verder iets om vir jou te vra nie, maar ek vermoed ons gaan een of ander tyd nog moet gesels. Daar is so baie dingetjies wat ons nog moet uitsorteer. Dankie dat jou hier was, ou Rikus! Stuur maar groete vir jou pa en Griebenow en soaan, né?

R: Dis ‘n plesier, en ek maak so.

Lewer kommentaar