world record

Ons probeer ‘n wêreldrekord breek!

Een bundel, honderd skrywers.

Ek is tans een van honderd-en-twaalf deelnemers wat probeer om die Guinness Wêreldrekord te breek vir die meeste outeurs wat bydra tot ‘n kortverhaalbundel. Die huidige rekord word gehou deur ‘n groep van vyftig mense. Ons probeer ‘n bundel publiseer met ‘n honderd stories van ‘n honderd unieke outeurs. En, die uitgewer en brein agter die operasie is ‘n Suid-Afrikaner van die Kaap!

Ek is baie opgewonde om aan hierdie geskiedkundige poging deel te neem (en dit is NIE net omdat ek dink die sertifikaat sal oulik lyk op my muur nie), maar daar is een kleinerige probleempie.

Om in aanmerking te kom vir die wêreldrekord moet daar 1000 eksemplare van die bundel verkoop word. Sover ek weet kon die organiseerder, na onderhandelings, dit regkry dat ons 500 e-boeke en 500 hardekopieë van die hand moet sit. Dit is nog steeds nie min nie, as mens in aanmerking neem dat ons dit alles voor einde September moet gedaan kry en helfte van die stories nog nie eens geskryf is nie. Insluitende myne!

So, as ek julle mense ‘n guns mag vra, gaan ondersteun die bundel by hierdie skakel.

Ek kan vanselfsprekend nie pa-staan vir wat die ander skrywers mee vorendag gaan kom nie, so ek was hiermee my hande in onskuld as julle dalk iets vreemds raakloop.

Waaroor gaan ek skryf?

Ek het besluit om ‘n storie wat al ‘n hele ruk in my kop rondwaai neer te pen. Ek weet nog net ‘n paar dinge van hom af, en ons sal maar moet sien hoe draai hy op die ou end uit. Ongelukkig moet ek dit in Engels skryf.

Op die oomblik staan sake omtrent so:

Karakters:

Hannah Tucker – ‘n jong weduwee en die heldin van die verhaal.
Andrew Lucas – haar vervreemde broer.
Rebecca ‘Becky’ Tucker – Hannah se dogtertjie. Sy is twee jaar oud.
Jacob Nathaniel Doyle – die sheriff.
The Mutt – Hannah se (vrek lelike) hond.
Chuck Nicholls – die skurk.

Die storie speel af aan die einde van die agtiende eeu in die Amerikaanse Wilde Weste. Hannah se man is drie jaar gelede, voor Becky se geboorte, doodgeskiet. Sy verwyt Andrew vir sy dood, en na ‘n argument het Andrew weggegaan uit die dorp. Sedertdien het Hannah en haar broer mekaar nie weer gesien nie.

Die storie begin waar Andrew by Hannah se huis inbreek. Hy is gewond en ylend, maar sy dring aan daarop dat Jacob hom arresteer vir oortreding op privaateiendom, en sy weier om hom in haar huis te verpleeg. Daardie nag word Becky deur ‘n moordenaar met ‘n vete teen die Lucas-familie ontvoer. Dit blyk te wees dat Andrew om daardie rede haar probeer opsoek en waarsku het. Hannah en Andrew moet op een of ander manier ‘n vergelyk probeer tref sodat hulle Becky kan red, sonder dat Nicholls daarin slaag om hulle uit te wis.

*vryf hande teenmekaar*

En nou aan die werk om die skote te laat klap!

1 kommentaar op “Ons probeer ‘n wêreldrekord breek!

Lewer kommentaar