Afrikaans Skryfgeheime

5 foute wat jong skrywers begaan

Ons almal weet hoe dit is as jy die eerste keer begin skryf. Sommige van ons het al uit die papiestadium ontwikkel, maar ons almal was op een tydstip ‘n jong skrywer. Ons almal ken die gevoel van opwinding en heerlike verwagtig as jy jou eerste vel skoon papier voor jou het, as jou eerste karakters in die skaduwees begin sigbaar word. En ons almal ken ook die misrabele gevoel van mislukking, as jy besluit om maar af te sien van hierdie hele idiotiese idee om ‘n skrywer te word, en liewer ‘n kelner of ‘n bemarker van klein, gekleurde kasies word.

As iemand wat met ‘n groot skep bonatuurlike Genade volhard het, gee ek vandag graag ‘n bietjie raad. Hier is vyf foute wat ek gereeld gemaak het, en wat ek trouens nog steeds somtyds maak

  1. Jy neem te min notas

Jy weet al daardie manjefieke idees en tonele en beskrywinkies en sinne wat in jou kop ronddwarrel? Dalk is dit iets wat die skurk in die laaste toneel mompel voordat hy oor ‘n krans spring, of die beskrywing van die held se snor of ‘n idee oor die heldin se agtergrondstorie. Dit is die klein goedjies wat ‘n groot deel van ‘n goeie storie opmaak, en dit is juis die goedjies wat ‘n mens nie neerskryf nie. En wat jy dus vergeet.

As daar een ding is wat ek berou, is dit dat ek vroeër nie meer van my klein ideetjies neergeskryf het nie. Op die tydstip wat ek geweet het wat die geagte mnr. Skurk mompel voordat hy oor die krans spring, het dit nie eers by my opgekom dat ek dit ooit sou vergeet nie. Nou weet ek dit was iets sarkasties, maar die presiese woorde sal ek waarskynlik nooit weer vind nie. Die arme man moet dus maar in stilte sy einde ontmoet.

‘n Stukkie raad

Ek probeer die laaste tyd om elke aand voordat ek my lig afsit eers ‘n stuk papier en ‘n skryfding nader te trek. Ek skryf dan al die onbeduidende sinnetjies en idees wat die dag deur my kop gedwarrel het neer. Dit hoef nie perfek te wees of goed te lyk nie, dit moet net so wees dat jy kan onthou wat jy daaroor gedink het.

  1. Jy gebruik te veel byvoeglike naamwoorde

Ek ken die gevoel goed. Mens het byvoorbeeld ‘n baie opwindende maar ook effens vae beeld van die heldin van jou storie in jou kop. In plaas daarvan om die tyd en breinkrag te bestee om ‘n helderder beeld van haar te probeer ontdek besluit jy liewer om van Al Die Woorde gebruik te maak. Byvoeglike naamwoorde word entoesiasties soos ‘n lang string pêrels ingeryg.

(Byvoeglike naamwoord) oë, (byvoeglike naamwoord) (byvoeglike naamwoord) hare en (byvoeglike naamwoord) (byvoeglike naamwoord) (byvoeglike naamwoord) neusie. En dan het jy nog nie eers begin met haar mond of die presiese hoek van haar kakebeen of die fyn gespierdheid van haar kleintoonjies nie.

As jy gelukkig is, word jy op hierdie punt moet ‘n skok wakker en besef dat sewe agstes van daardie pêrels glad nie pêrels is nie maar gedroogte padda-oë of iets nog meer afgrysliks. Daardie string ‘pêrels’ lyk en ruik so sleg dat g’n verstandige mens sonder ‘n graaf en ‘n Hazmat-pakkie daar naby sal wil kom nie.

Dis miskien ‘n skandelike oordrywing, maar die punt bly staan. Moenie oorboord gaan met die byvoeglike naamwoorde en beskrywings nie!

‘n Stukkie raad

Moet nie in twee opeenvolgende reëls die heldin se hare en oë beskryf nie. Sê miskien nou watse kleur haar hare is, en in die volgende paragraaf of volgende hoofstuk kan jy dalk ietsie laat val van die kleur van haar oë. Dieselfde geld ook met enige nader beskrywing. Jy hoef nie elke sentimeter van die kamer in een lang paragraaf te beskyf nie, jy kan detail laat val soos die karakter daardeur beweeg.

Mark Twain het ook gesê dat ‘n mens die woord ‘baie’ met die woord ‘damn’ moet vervang. Dan sal jou redigeerder dit in elk geval uithaal en jou storie baie beter daaraan toe wees.

(Dit verskil egter effens van genre tot genre. ‘n Leser van ‘n liefdesverhaal sal byvoorbeeld oor die algemeen meer belangstel in presies hoe jou karakters lyk.  ‘n Leser van ‘n aksieverhaal daarenteen gee nie regtig om of die heldin ‘n blondine of ‘n brunet is nie, hulle wil net weet wat sy doen!)

  1. Jy laat mense lees wat jy geskryf het

Dit is tog die rede hoekom ‘n mens skryf, is dit nie? Dit is omdat jy graag ‘n stukkie van jou hart met mense wil deel. Daar is egter ‘n tyd om te deel en ‘n tyd om jou kleinnode vir jouself te hou.

Dit het al baie met my gebeur. Ek skryf ‘n manjefieke paragraaf of hoofstuk. Die adrenalien vloei, die idees snol soos jong jakkalsies in my verbeelding rond. Ek skryf die laaste woord en storm onmiddellik uit om een of ander onvermoedende lid van my gesin te dwing om my storie te lees. Hulle is natuurlik gaaf oor die hele saak en is op gepaste wyse verstom oor die manjifiekheid daarvan (veral as dit mens se ma is). En dan kom ek terug en my kamer, gaan sit om verder te skryf. En dit is weg.

Die elektriese gevoel van opwinding is uitgeblus, die jakkalsies het teruggekruip in hulle gate. Ek weet self nie hoekom dit so werk nie, maar dit is wat gebeur.

‘n Stukkie raad

Wag eers vir daardie elektriese gevoel om vanself oor te waai voordat jy iemand na jou werk laat kyk. Gaan dan jou skryfstuk ‘n paar keer na en deel dit dan met iemand, as jy nog graag wil.

  1. Jy weier om mense te laat lees wat jy geskryf het

As mens ‘n paar keer jou kop gestamp het deur mense jou goed te laat lees, is jy geneig om weer na die ander uiterste te gaan. Jy sal liewer Chinese watermarteling deurstaan as om iemand jou storie te laat lees. Soos ek hierbo gesê het: daar is ‘n tyd om ‘n kleinnood vir jouself te hou, en ‘n tyd om hom te deel.

Partykeer het mens aanmoedigende kommentaar nodig, of daardie onbewustelike glimlag wat oor iemand se gesig kruip as hulle jou werk lees en jy weet dit is besig om die uitwerking te hê waarvoor jy gehoop het. So ‘n bietjie positiewe terugvoer is net genoeg om ‘n mens weer moed in te praat.

Ander kere is dit ook nodig dat iemand jou skryfwerk deurlees, suur glimlag en sê: “Hmm, dis nogal interessant.” Party mense is eerlik en sê jou reguit dat dit absolute twak is. Dit is ook goed om sulke kommentaar te kry. Soms kan dit jou ook help om finaal afskeid te neem van ‘n rêrige swak deel. Dit kan ook help om jou van pure woede weer opnuut aan die skryf te kry. Jy wil mos bewys lewer dat jy nie altyd twak skryf nie!

‘n Stukkie raad

Wees dapper!

  1. Jy vergeet wie die Groot Outeur is

Skrywers is mense wat maklik van een uiterste na ‘n ander wissel. Ons is net so maklik tot die dood toe verbitter oor ons gebrek aan skryfvermoë en idees, as wat ons grootkop raak omdat ons Slim Skrywers is wat Stories Opmaak en So Beroemd gaan word. (Sê dit deur jou neus en probeer deftig klink.)

Veral as mens so effens in die skryfding begin inkom. En jy besef skielik watter wonders jy kan verrig. Met net ses-en-twintig letters en ‘n bietjie verbeelding kan jy ‘n hele nuwe wêreld skep. In that moment, I swear we’re all infinite.

Net, dit is natuurlik nie die waarheid nie. Ons is nie oneindig nie. Ons is gras wat verdroog en kaf wat die wind verstrooi en ons vergeet so maklik waar ons skryftalent vandaan kom. Dis nie eens vir die lesers wat ons primêr skryf nie. Ons skryf vir God. Ons skryf om eer te bring aan die Een aan wie alle Eer toekom. Om die Een te dien voor wie elke knie sal buig. Ons skryf om die Almagtige se almag ten toon te stel. Ons skryf om die Waaragtige se Waarheid in die wêreld uit te dra. En ons mag dit nooit vergeet nie.

‘n Stukkie raad

Bid voordat jy skryf. Ek self het eers onlangs hierdie gewoonte probeer begin, en ek sukkel nog steeds daarmee. Dit help ook om aktief daaraan te dink om die Here te dien deur jou skryfwerk.

 

Wat is die ding waarmee jy die meeste gesukkel het as jong skrywer, of nog steeds mee sukkel? Gooi vir my ‘n kommentaartjie en laat my weet!

 

Vriendelike groete (en die dodemars vir ‘n wandelende driehoek)

Margaret

2 thoughts on “5 foute wat jong skrywers begaan”

  1. Ek het agter gekom dat ek heeltemal te veel byvoeglike naamwoorde gebruik vir my edele, lang, gewigtige sinne. Hulle lees soos ‘n sinkplaatpad as jy een na die ander “pêrel” tref en mens moet naderhand ‘n holruggie trek om die skok te probeer breek. Dankie, Margeret!

Lewer kommentaar