Cavadd Christia

Cavadd IV – Christia

Sy word wakker in ‘n halfdonker vertrek. Die enigste lig brand vanaf ‘n enkele kersvlammetjie op die tafeltjie langs haar bed.
‘n Lang ruk lê sy stil.
Die lakens is skoon en koel, waar haar kaal bene en handpalms daarteen rus. Die kussing is stewig, haar hare effens natgesweet. Sy kan geen geluid bo die gehamer van haar eie polsslag in haar ore hoor nie.
Sy sit regop.
Om haar arm is daar ‘n wit verband gedraai, waarop daar bloed uitgeslaan en drooggeword het.
Versigtig voel sy daaraan, betrag dit half verwonderd. Haar arm is werklik ‘n bietjie seer.
Die hele situasie is uiters vreemd.
Helder ligte, ‘n onverbiddelike staaltafel, leerbande, onpersoonlike stemme en die branderigheid van ‘n nuwe dosis chemikalieë langs haar rugstring. Reeds besig om haar sintuie te verskerp en haar gedagtes te steel. Dit is wat sy gewoond is om aan die anderkant van ‘n salige donkerte te vind.
Nie ‘n kerslig, en ‘n sagte bed en ‘n vreemde stilte nie.
Sy swaai haar bene versigtig oor die kant van die bed, en vries.
Haar eerste reaksie toe sy gewaar dat daar ‘n seun op die plastiekstoel langs die bed sit, is om na ‘n wapen te wil voel.
Sy doen dit egter nie.
Vir hom onthou sy baie goed, die outjie met sy gladde bruin kuif en sy wye wangbene. Dit is die seun van die stasie, met die leerbaadjie en die sigaret.
Hy voel seker dat sy vir hom kyk, want hy maak eensklaps sy oë oop en sit met ‘n geruk van lang bene regop.
Sy kneukels is donker gevlek, en daar is ou roet onder sy naels vasgepak, merk sy toe hy die slaap uit sy oë vee.
Toe hy sy hande laat sak gewaar hy haar.
Sy verwag smaad, miskien vrees. Hy weet tog sy is ‘n cavadd. Maar in plaas daarvan glimlag hy breed.
“Hallo! Wakker?”
Hy staan op en steek ‘n hand uit, miskien op haar aan te raak sy weet nie. Skiet net onwillekeurig terug op die bed, hurk op die verste punt met elke spier in haar liggaam gespan.
Sy is nog nie heeltemal skoon nie, besef sy. Die reaksie is nie haar eie nie. Ingedrilde impulse wat haar dwing om haar bene te skuif vir die sprong, haar oë die teiken laat soek, haar hande in kloue laat span.
Die teiken bly ‘n ent van haar af staan, sy hande oopgesprei in ‘n kalmerende gebaar.
“Dis oukei,” sê hy veraf. “Ek wil jou nie seer maak nie. Ontspan.”
Sy probeer. Probeer haar gedagtes organiseer, maar dit raas in haar kop. As sy nou spring en die teiken teen die bors tref sal sy nek gebreek wees voor hy kan reageer. As…
“Ek kan nie,” kry sy uiteindelik uit.
Die kos energie wat sy nie het nie om die moordadige begeertes te beheer. En dit skyn te wees asof die chemikalieë wat so lank haar brein beheer het nou protesteer teen haar veronagsaming. Daar rol ongevraagde statistieke, uitgewerkte roetes en grafieke en bevele in haar geestesoog verby. Sy weet sy gaan binnekort moet beweeg. En dit gaan nie ‘n beweging wees waaroor sy beheer het nie.
“Wat is jou naam?” vra die teiken.
Die vraag vang haar en die stemmetjies onkant.
Dit is skielik weer weergalmend stil in die kamer, en sy kan in die diep ondergronde van haar brein na die legger gaan soek. Sy vind dit eers nie, maar toe besef sy dat dit afskuwelik is dat sy haar eie naam vergeet het. Dit is tog so eenvoudig.
“Christia,” sê sy.
“My naam is Rikus Edi,” sê die seun.
Hy kom behoedsaam ‘n treë nadeer.
“Jy het my gehelp.”
Hy knik.
“Waar is ek?”
“Die kliniek in Trevorstraat.”
Hy is net ‘n klein entjie van haar af, en sy kry dit op een of ander manier reg om haar hande te laat sak en haar bene onder haar uit te vou.
“Ek het jou hierheen gebring.”
Dit maak geen sin nie, en sy is deurmekaar, en sy druk haar bewende hande onder haar bobene in sodat sy nie dalk slaan voor sy dit besef nie. Sy het hom dan laas op Gravatt-stasie gesien, toe sy gewond was. Hy het haar gehelp. Sy was helder, in daardie paar minute wat al die konsole se energie aan die wond in haar skouer bestee was. Teen die tyd wat sy in die Noorde aangekom het was die bloed egter genoegsaam gestelp. Sy het reguit na die koppelpunt, en Lafayette, gestap.
“Ek het jou in ‘n stegie gekry,” gaan Rikus Edi verder. “’N Bende leerbaadjies was besig om jou op te dons. Ek het hulle verwilder en jou toe hier na Griebenow toe gebring. Die dokter.”
“Hoekom?”
“Wel, hy’s die beste dokter in die stad. En hy’s ‘n goeie ou. Hy sal help.”
Sy skud haar skouers. Hy kan of wil blykbaar nie verstaan nie.
“Hoekom soveel moeite, Rikus Edi? Ek is ‘n cavadd. Twee minute gelede wou ek jou doodmaak.”
Hy trek een wenkbrou op, en ‘n effens geamuseerde trek verskyn op sy gesig.
“No shit,” sê hy. “Ek gaan gou vir Dok roep. Moenie verdwyn nie.”

Na ‘n rukkie is hy weer terug, saam met ‘n vreemde man.
Griebenow is lank en bonkig gebou, ‘n flikkering van regop grys hare en goedige oë in die flou kerslig.
Vir ‘n oomblik, toe hy oor haar buk in die halflig, ruk sy van die skrik. Sy skryf dit maar toe aan die prikkelende impulse wat nog bedrieglik saggies agter in haar brein fluister.
Die man genaamd Griebenow ondersoek haar vlugtig, luister na haar hart, neem haar pols, druk iets kouds in haar oor en betrag haar arm met ‘n kritiese oog.
“Hoe is jou pyn?”
Christia kyk hom stom aan. Toe lig sy haar arm en kyk self krities daarna.
“Hoe diep is die wond dan?”
“Paar milimeter. Nie geweldig nie.”
“Milimeter…”
Sy betrag dit weer.
“Dit bloei dan?”
“Ek het jou konsole ontkoppel.”
‘N Eenvoudig antwoord, jou dom esel, dink Christia. Natuurlik is die konsole ontkoppel. Geen manier dat jy die excors sou kon weerstaan terwyl dit nog stroom nie.
“Hoe het jy dit reggekry? Ek wil jou nou nie bang praat nie, maar as ek nog onder die invloed was sou ek eerder jou nek gebreek het as om stil te lê dat jy met die konsole peuter. Daarvoor sorg die hanteerders.”
Griebenow grynslag vir haar.
“Iemand het lelik opgemors met jou dosisse, meisie. Die sanguipro en spirare was heeltemal te min om die lacerotus te weerstaan, en jy het vanaand al lelik baklei. Jou hartklop was byna deur die dak. Ek het vanselfsprekend die excors ook ontkoppel.”
Rikus Edi gooi homself met ‘n sug weer in die stoel langs die bed neer.
“Afrikaans, dok?”
“Lacerotus verbeter die krag en spoed, maar sonder sanguipro en spirare kan die liggaam nie die geweldige energieskoppe verwerk nie…” Griebenow maak ‘n betekenisvolle gebaar oor sy keel.
“Ek sien. Excors?”
“Die goed wat die brein scramble.”
Rikus knik seker, maar Christia kyk nie meer vir hom nie.
Sy kyk net stip vir Griebenow, vir die flikkering van sy grys hare wanneer hy buk om aantekeninge in die legger op die tafel te maak. Dit is nie die excors wat haar netnou laat ruk het nie. Sy weet nou na wie hy lyk.
“Hoe weet jy dit?” vra sy stadig. Sy kyk afgetrokke na haar vingers wat met ‘n los garing aan die kombers torring, toe hy vir haar kyk, maar in die dieptste hoeke van haar middelrif begin sy die spiere saambondel vir die sprong.
Griebenow antwoord nie.
“Jy is een van hulle, nie waar nie?”
Christia spring.
Sy gooi haarself met een, stil sprong teen sy bors. Haar vingers sluit om sy keel.
Sy is swak, besef sy met ‘n koue soort skrik. Griebenow steier net effens.
Die konsole is ontkoppel, jou dom esel.
Voor sy haar greep kan vervat het Griebenow reeds sy ewewig herwin.
Hy stamp haar weg dat sy teen die bed steier. Dadelik dring sy weer vorentoe, snouend van woede.
Hierdie keer, haar hande nog krappend na sy oë, tref die hiel van sy hand haar met ‘n geweldige stamp tussen die oë.
Sy is nie eens bewus daarvan dat sy die vloer tref nie.

Lewer kommentaar