Klipengel

My nooi se naam is Hadeda, Hadeda Willemse. Wat haar ouers gedink het toe hulle haar dié naam gegee het sal g’n mens ooit weet nie. Hadeda Willemse is die meisie wat die minste na ‘n hadeda lyk het van al die meisies wat ek ken. Klein, fyn, met ‘n rosige mondjie en ragfyn goue krulle. As sy praat met haar melodieuse, soet stemmetjie is daar geen sprake van ‘n hadeda se gekrys nie.

Maar dit is juis oor daardie soet stemmetjie van haar, en my gehegtheid daaraan, wat ek in hierdie hele gemors beland het.

Sien, Hadeda het my gevra om vir haar ‘n engeltjie van die rommelhoop te gaan afhaal. Sommer so klip affêretjie met sy een vet vingertjie voor sy lippe gedruk. Afgryslik, as jy my vra. Hadeda was egter versot op die goedjies. Toe die ou begraafplaas se muur, waarop hulle vasgemessel was, uitgebreek is om nog ‘n uitbreiding te bou, het die engeltjies op die ashoop beland. Hadeda wou ten alle koste een hê.

Nou, daar is twee, eintlik drie, groot probleme met daardie versoek.

Die rommelhoop is onbegaanbaar van die hoofingang af, vanweë Maer-Tjaart en sy skollies wat heeldag daar rondhang. Dit beteken dat die enigste manier om die rommelhoop te bereik is om deur mnr. de Lange se agterplaas te loop, oor sy heining te klim en jou pad deur kakiebos en ander onkruid te baan tot jy die engeltjies vind.

Probleem nommer een: De Lange laat onder geen omstandighede iemand deur sy agterplaas loop nie. Hy het ‘n perskeboord daar wat die appel van sy oog is. Dit sal nie help om vir hom te probeer verduidelik dat ek geen belang in sy perskes stel nie, want sy doofheid is legendaries in die distrik.

Probleem nommer twee: De Lange mag miskien doof wees, maar hy kan nog goed genoeg sien om elke jaar die Nuwejaarsskyfskietkompitisie met vlieënde vaandels te wen. Hy kan dikwels snags gesien word waar hy met lantern en haelgeweer sy boord patrolleer.

Probleem nommer drie: Saam met die lantern en die haelgeweer is daar ook ‘n venynige klein Jack Russell kruisingtjie. Die dingetjie se naam is Kallie en hy is skaars groter as ‘n rot. Hy het eenkeer Sarel Venter se middelvinger byna morsaf gebyt toe dié hom probeer terg het.

Enige wyse man sou sonder twyfel daardie Vrydagaand tuisgebly het. Nie ek nie.

Hadeda het my gekry om haar te belowe dat ek haar halftien op die hoek van Brandt en Ryne sal ontmoet, so paar huise van de Lange af.

Ek doen dit toe ook.

Ek gewaar eers niks toe ek met my hande in my jas se sakke in Brandt afgesuiker kom nie. Ek doen my bes om onskuldig te lyk, maar my mond is te droog om te fluit. Ek kry nog warm ook, boonop, want hierdie jas is die dikste wat ek het. Ek reken darem dit sal my miskien ‘n bietjie beskerming bied teen ‘n skoot donshael.

Ek steek op die hoek vas, kyk gou op my horlosie. Dit is al na halftien. Waar sou Hadeda wees?

Dit is doodstil, en dan, saam met die ruising van die wind hoor ek ‘n gedempte laggie.

In die dieptes van die skaduwees onder ‘n bougainvillea heg kom ‘n blonde kop soos ‘n vlam te voorskyn.

“Hallo-hallo,” fluister sy.

“Haai,” fluister ek terug.

Sy steek ‘n ent van my af vas, haar voete wydgeplant en haar hare los in die wind, en sy lag toe sy my gesig sien.

“Toe, Jamie ou seun, dit sal goed wees vir jou om ‘n bietjie te lewe.”

Ek sug, en sy kom gou nader om my hand te gryp.

“Komaan! Ek moet voor tien by die huis wees, anders waai die vere.”

Dit ook nog, dink ek verbitterd.

Ons hurk saam agter die klimopbedekte heiningtjie voor mnr. de Lange se huis.

“Ek sien darem geen beweging nie,” sê ek na ‘n oomblik se bespieding.

“Hy luister altyd radio tot tienuur,” weet Hadeda te vertel. “En hy sit dit so hard dat ek dink selfs die hond nie weet wat buite aangaan nie.”

“O, hy weet. Hy lê sweerlik net hier anderkant vir my en wag. Jy weet dit is die domste idee wat jy in jare gehad het, né?”

Hadeda snuif.

“Ek wou dit self gaan haal het,” sê sy. “Maar, nee. Jamie moet dit eenvoudig doen.”

“Ek gaan jou nie daar in laat om deur die hond opgevreet te word nie!”

Sy trek haar skouers op.

“Nou? Waarvoor wag jy?”

 

My hard klop soos ‘n tamboer in my keel toe ek myself voel-voel oor die heiningtjie laat sak. Die maan het agter ‘n wolk verdwyn, wat eintlik ‘n genade is, maar ek kan nou byna nie my hand voor my oë sien nie.

Geskeur tussen die begeerte om tegelykertyd vinnig en stil te wees, gaan ek uiteindelik maar vir ‘n gebukkende, skuifelende draf.

Elke treë wat ek gee verbeel ek my ek hoor die getrippel van klein pootjies agter my. Ek kan darem nog die kombuisdeur vir ‘n rukkie uit die hoek van my oog sien, maar die laaste stuk na die agterste heining toe is dit nek ek en die donkerte en my kriewelende nekhare. Ek kan al voel hoe die haelgeweer se visier tussen my skouerblaaie vastrek.

Die laaste ent dink ek nie eens meer om sag te wees nie. Ek hardloop net so vinnig as wat my bene my kan dra. My hande vind die bokant van die ogiesdraad. Ek werp myself met ‘n desperate sprong oor en bly anderkant, hygend, in die langgras lê.

Op mnr. de Lange se werf roer daar niks nie. Die maanlig helder weer die stil werf op, en self nie ‘n blaartjie roer in die wind nie. Harde radiostemme weerklink by die oop deur uit.

Ek gaan met ‘n sug van verligting verder.

 

Die ashoop-deel van my ekskursie loop sonder enige voorvalle af. Ek klouter deur die rommel, vind die hoop beton, en gebruik my flits om die beeldjie met die minste skade vir Hadeda uit te soek. Met engel-se-kind veilig in my sakdoek toegedraai en diep in my jassak gestop pak ek die terugtog aan.

By die ogiesdraad staan ek weer ‘n oomblik om te bespied. Alles is nog stil.

Ek hys myself versigtig oor en begin die terugtog.

Ek moes seker iewers verkeerd gegaan het, want dit is daar, in die stikdonkerte wat ek my moses teëkom.

Dit is in die vorm van ‘n verdwaalde kruiwa.

Ek loop netjies tussen sy handvatsels in en stamp my linkermaermerrie met ‘n geweldige slag. Met dié dat ek probeer uitswaai haak my ander been aan die handvatsels vas. Ek verloor my balans. My ken maak kontak met die kruiwa se buik en toe val ons albei om met ‘n slag wat die hele buurt laat dawer.

Half-bedwelmd, onder die ysterrand van die kruiwa uit, sien ek hoe die kombuisdeur oopgeklap word. Twee figure spring keffend van woede van die stoep af.

“Whaf-whaf-whaf!” sê Kallie.

“Nou het ek jou, jou vreksel!” skree mnr. de Lange. “Hiel, Kallie!”

Die kruiwa word met ‘n gesokkiede toon van my afgestoot. Ek kyk op in die loop van ‘n haelgeweer en twee briesende oë daaragter.

“Jy’t gedink jy gaan my perskes steel, né!”

“Nee, oom,” probeer ek, al weet ek dit sal nie help nie.

“Hê?”

“Ek het nie kom perskes steel nie, oom.”

“Hê?”

Hy stamp die geweer nog nader aan my neus en ek deins verskrik terug.

Kallie sit gesellig by sy baas se voete, maar sy blink ogies sê: “Gee my net een kans en my baas sal nie eers sy geweer meer nodig hê nie.”

“Vir jou vat ek polisie toe! Wat is jou naam?”

“Oom?” sê ‘n soet stemmetjie.

Ek word yskoud.

Hadeda staan net ‘n paar treë van my af, en sy glimlag soet toe de Lange na haar kyk.

“Nou’s hier nog ‘n meisiekind ok,” sê hy. “Wat’l jy hê?”

“My naam is Hadeda Willemse, oom,”

De Lange draai sy kop skuins.

“Hoe se goedjie?”

Hadeda kom gou nader.

“Hadeda Willemse oom,” sê sy. “En dit is my kêrel, Jamie Theron. Hy’t nie oom se perskes kom steel nie, eerlikwaar. Oom weet mos daardie mooi steenengeltjies wat hulle by die begraafplaas afgebreek het? Jamie het vir my een gaan haal, op die ashoop. En oom weet mos Maer-Tjaart hulle hang daar by die ingang in Thomsonstraat uit, so ons het nie ‘n ander keuse gehad nie. Jamie wou glad nie hierdeur kom nie, maar ek het so geneul en geneul om ‘n engeltjie…”

Sy het waarlik trane in haar oë.

Oom de Lange lyk nou werklik verward.

“‘n Hadeda wat ‘n engel soek?” mompel hy. “Of is dit nou ‘n engel wat ‘n hadeda soek?”

Hy vryf oor sy nek en kom skielik tot ‘n besluit.

“Trap!”sê hy. “Toe, trap, of die hond sal julle byt.”

Ek hoef nie twee keer genooi te word nie.

Ek gryp Hadeda se hand en laat nael vir die hekkie sonder om terug te kyk.

 

Fin

Lewer kommentaar